Raponsie vir Kansa

Raponsie vir Kansa

Genevieve-Jane van der Merwe Josias laat ‘n mens dink aan ‘n hedendaagse Raponsie. Maar in plaas daarvan om haar pragtige, lang hare vir eie aanwins en skoonheid te gebruik, spaar sy elke sentimeter. Drie keer per jaar knip sy haar lank lokke, skenk dit en doen iets besonders daarmee. Dit is haar storie…
Genevieve woon al vir die afgelope 37 jaar op Malmesbury. Hier gebore en getoë, en geliefd onder die wat haar ken. ‘n Klein mensie met ‘n groot hart.
Sy werk in die mediese veld en ken die hartseer wat dikwels met hierdie professie gepaard gaan. Dit is een van die grootste redes wat daartoe bygedra het dat Genevieve vir die afgelope 20 jaar, haar hare aan Kansa skenk.
Sy kom egter uit ‘n familie waar daar geglo word dat meisies nie hulle hare mag knip, terwyl hulle nog besig is om te groei nie. So sagmoedig soos Genevieve is, kan mens uit die staanspoor sien dat sy nou en dan rebels kan wees.
Hierdie rebelsheid het in graad 11 sy kop uitgesteek toe sy besluit het om haar hare te knip vir ‘n skoonheidskompetisie, sonder haar ma se medewete.
Sy het die prys betaal vir daardie ongehoorsaamheid en vertel dat sy dit nooit sal vergeet nie.
Maar dit het natuurlik nie daar gestop nie, want as jy eers een keer geknip het…
Genevieve noem dat sy vir die afgelope 20 jaar al dieselfde haarkapster, Zuri Cummings, beter bekend as Sorya, gebruik.
Met die uitbreek van die Covid-pandemie was Sorya verplig om die deure van haar salon te sluit, maar Genevieve het nie toegelaat dat dit haar terug hou nie. Sy vat toe die pad en ry tot by Sorya.
Sy vertel dat sy dikwels, voordat sy besluit het om haar hare te skenk, met verwondering na haar hoop hare gestaar het.
Sentimeters hare wat net eenvoudig weg gevee en weggegooi word.
Eendag het sy besluit om ‘n ‘ziplock’-sakkie saam te neem en vir Sorya gevra om die ongeveer 30cm lange stuk hare daarin te sit.
Sy het op daardie oomblik nog geen idee gehad wat sy met die hare wil doen nie.
Ná ‘n besoek aan die Rooikruis Kinderhospitaal, met wie sy ‘n noue verbintenis het, het sy besluit om haar hare aan Kansa te skenk.
Eers het sy net ‘n naamlose sakkie hare by ‘n kontakpersoon op Malmesbury afgelewer.
Toe die geleentheid hom voordoen, het sy self na die Kansa-gebou in Observatory, Kaapstad, gegaan.
Daar het sy navraag gedoen oor hoe die proses werk.
Vir die afgelope 20 jaar skenk Genevieve anoniem haar hare aan Kansa. Sy het verkies om dit so te doen en noem dat dit ‘n persoonlike keuse was.
Kansa het vyf jaar gelede besluit dat dié wat hierdie onbaatsugtige skenkings doen ook erkenning moet kry en dus maak sy nou haar naam bekend. Genevieve het geen idee hoeveel pruike al van haar hare gemaak is nie, maar net die wete dat dit iewers in iemand se lewe ‘n verskil maak, is genoeg vir haar.
Soos genoem het sy ‘n sagte plekkie vir die Rooikruis Kinderhospitaal. Dit verskaf groot vreugde aan haar om te weet dat sy verskil in baie kinders se lewens maak. Dikwels is hierdie klein kankerpasientjies geweldig sterk en selfstandig, maar hulle wil so graag net mooi en soos anders kinders lyk.
Genevieve se woorde weerklank in my ore: ‘Rooikruis Kinderhospitaal is soos ‘n katedraal. ‘n Plek wat jou nederig maak en laat besef hoe klein ons as mens werklik is’.
Sy doen ‘n beroep om mense om dit ernstig te oorweeg en dit ook te doen. Ongeag die lengte, die kleur of die tipe hare.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*