RDH weer op die been Eerste burger herstel van Covid

RDH weer op die been Eerste burger herstel van Covid

Die Swartlandse eertste-egpaar, raadsheer Tijmen van Essen en sy vrou Doedtjie, het volkome herstel ná altwee positief vir die Covid19-virus getoets is gedurende Desember.
Van Essen het sy arts besoek vir sy jaarlikse ondersoek weens kanker en nier-kwale wat hy in die verlede ook oorkom het.
“Toe ek daar aankom, het ek geen idee eers gehad dat ek die virus het nie! Ek het ‘n ligte hoesie gehad en ‘n bietjie van ‘n neus wat loperig was, maar niks wat kommer gewek het nie. Die dokter het iets gesien wat ek nie van geweet het nie en my dadelik getoets vir die virus. Wattestokkie in die neus en drie dae later, toe kry ek die positiewe uitslag.
“Ek het onmiddellik in isolasie gegaan toe dit nog net ‘n vermoede was.
“My vrou het ook ‘n kuggie ontwikkel. Ons altwee het erge hoofpyn ervaar en ons liggaamstemperatuur het by die 39.5 grade celcius gedraai.
“Wat vir my erg was, was dat my spiere geweldig seer was en ek het baie moeg gevoel.”
In Van Essen se geval, het die virus ook sy dermkanaal aangetas en het hy vir “vyf dae in die badkamer geboer”.
Vir hom het kos sleg geproe, maar het altwee hul reuk- en smaaksintuig behou.
Eers met dag 10 het dit begin beter gaan met die egpaar.
“Elke aand het ons temperatuur maar weer geklim – nie net gedurende ons isolasietydperk nie, maar selfs nog vir ‘n week daarna.”
Dit het die egpaar drie weke geneem om hul kragte te herstel.
Van Essen is dankbaar dat hy die virus kon oorwin, maar waarsku Swartlanders om steeds te hou by die reëls en regulasies wat in plek gestel is.
“Ons sien dat die meeste mense wat nou besmet is met die virus, dit opgedoen het toe hulle oor die Feestyd familie-byeenkomste gehou het.
“Die 14 dae wat ons in isolasie was, het ons niemand naby ons toegelaat nie. Dit was net ons twee en dit is hoe dit moet wees. Moenie winkel toe gaan of gou by die apteek stop as jy vanaf die toetssentrum of dokter kom nie. Gaan dadelik huis toe en isoleer jouself en jou gesin van die buite-wêreld. Dit is geweldig belangrik dat isolasie reg gedoen word.
Volgens oorvertelling is die Weskus die enigste in die gebied wat nog sterk in getalle klim, maar dat die piek binne die volgende twee weke bereik gaan word.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*