Riebeek Wes dra binnekort ’n nuwe baadjie… en broek!

Riebeek Wes dra binnekort ’n nuwe baadjie… en broek!

Ella Blom en Willem Coetsee, die besigheidsbreine agter die Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum-projek wil nie nou al die hele aap uit die mou laat nie…
Hulle deel hierdie brokkies van wat besoekers kan verwag.

’n Meubelwinkel met ’n kinkel: Erna Simon en haar dogter Melissa Vermaak sal verantwoordelik wees vir die tweedehandse meubelwinkel, maar dis nie net ’n meubelwinkel wat antieke items gaan aanhou en verkoop nie. Hulle besoek graag veilings waar hulle items bekom wat deur klante aangevra word, van klein benodigdhede tot groot meubels. Hulle dienste sluit ook aflewering in en hulle fokus op items wat deur die gemeenskap benodig word.

Theo en sy gereedskap: Theo Simon bring graag sy vaardigheid met gereedskap en sy vernuf met boumateriaal na die sentrum met Theo’s Toolbox. Van DIY-tipe gereedskap; tot sement en boublokke; en selfs die huur van items – dit alles word deur Theo behartig.
Die deli, die drukkery en die barista-koffiewinkel: “Die drie besighede wat aan die voorkant van die straat gaan intrek is ’n ‘kontrei’ deli, ’n drukkery en ’n koffiewinkel,” vertel Coetsee. “Al hierdie besighede gaan ’n gevoel van nostalgie skep en gaan sover moontlik plaaslik ondersteun en verskaf.”

Coetsee lap uit dat die koffiewinkel barista-styl koffie gaan aanbied sowel as etes en disse wat vir almal se smake voorsiening gaan maak.
Die verskeidenheid bied ’n aangename ervaring vir besoekers en klante; terwyl jou motor gediens word kan jy gaan asem skep met ’n flat white en vinnige WiFi óf wanneer jy op ’n Vrydag na werk stop vir brandstof kan jy gou die deli besoek vir jou naweek se braaivleisbenodighede en iets uit ouma se kombuis.
“Die sentrum is daarop gemik om vir die besige kern van die dorpie ’n mooi en unieke besigheids-ervaring te bied, terwyl ons terugploeg in die gemeenskap,” sê Coetsee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*