Robert skiet amper SA-titel los

Robert skiet amper SA-titel los

Robert Moreland van Malmesbury en eienaar van Beef and Barrel-restaurant op Malmesbury het verlede week die WP Visskietspan verteenwoordig by die SA-kampioenskappe.
Hy is op ‘n tegniese punt gediskwalifiseer op die eerste dag.
Op die tweede dag het hy sterk teruggeveg en die dag gewen. Op dag drie het hy ‘n vierde plek behaal.
Oor die algemeen het hy ‘n 16de plek behaal, met slegs twee van die drie dae se punte wat in ag geneem is.
Volgens die organiseerders se puntetelling sou Robert die kompetisie gewen het, as hy nie die eerste dag se punte moes prysgee weens ‘n tegniese fout nie.
Soos ‘n epos aan Robert vanaf Corry Versluis, organiseerder, lui:
“Ons is almal hart verskeur, veral dat as jou eerste dag se resultate getel het, sou jy die 2022 SA Visskiet-kampioen gewees het.
“Aan jou, en veral jou ondersteuners, wil ek net sê die feit dat jy, na ‘n massiewe terugslag, nog steeds gekompeteer het en baie goed vertoon het is ‘n karaktereienskap wat min mense het. Meeste mense sou moed verloor het en tou opgooi. Jy het terug gekom en nog harder kompeteer.
“Ek is ook ‘n keurder vir die SA Protea Visskiet span en daai “never give up” houding is een van die eienskappe waarvoor ons kyk in ‘n duiker.
“Dit is maklik om goed te wees as als goed gaan. Maar ons soek die duiker wat as als verkeerd loop, hulself afstof, en terugkom en veg om so goed te doen as wat hul kan. Ek kan nie help as om aan jou te dink en vergelyk met Winston Churchill ‘We will fight them on the beaches…But we will never surrender’.”
Robert het ook ‘n persoonlike beste verbeter toe hy ‘n 3kg Dagaraad uitgetrek uit!
“Ek wil net graag my waardering en dank uitspreek teenoor elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het om hierdie ervaring vir my moontlik te kon maak. Dit was ‘n goeie leerskool – nie net op ‘n sportiewe vlak nie, maar ook op ‘n persoonlike vlak.”

Onderskrif: Bo: Robert Moreland van Malmesbury by die SA Visskietkampioenskappe met sy 3kg Dagaraad – ‘n nuwe persoonlike beste vir hom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*