Rolbal hou duime vas vir uitslae

Rolbal hou duime vas vir uitslae

Malmesbury se mansrolbalspan het die afgelope Saterdag op Durbanville by tye skitterende spel gelewer, maar helaas was dit nie goed genoeg om hul posisie op die punteleer buite die bereik van ten minste 3 spanne te plaas nie.
Die span van Paul Rossouw, wat moes instaan vir Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en SG Basson verloor die eerste stel 4-7, maar dit was taaier as wat die telbord aandui.
Die 2de stel wen hulle 7-3 en loop selfs 14-10 voor na 15 skofte.
Maar toe kyk die geluksgodin twee keer weg, en gee die span twee keer 6 skote af op die 19de en 21ste skofte.
Die hartseerste van alles was dat hulle bewus was daarvan om net 5 of minder skote moes afgee om die wedstryd algeheel te wen.
Die eindtelling 15-26, wat net mooi dieselfde punteverskil is waarmee die ander span gewen het. Paul en Marius het deurgaans goeie spel gelewer en die druk goed hanteer tot die noodlot laat in die wedstryd toegeslaan het.
Die span van Roux Vermeulen, Brian Howell, Jeff Petersen en Rainier van Zyl begin goed deur die eerste stel 9-2 te wen danksy ‘n paar goeie skote wat die opposisie se moed gebreek het.
Die tweede stel was baie taai met Durbanville wat terugveg tot ‘n voorsprong van 14-13, maar op die laaste skof van die stel tel hulle 4 op om wel 8-12 te verloor, maar behou die ritme en vat die stel 9-1.
Jeff het hoe later hoe kwater sy opponente goed onder druk geplaas, met Roux wat met 2 uitstekende dryfskote letterlik die spykers in die doodskis ingedryf het.
Oor twee Saterdae sal hulle finaal weet of daardie een punt op die punteleer wat in Durbanville agter gebly het, die verskil gaan wees tussen tweede en selfs vyfde plek op die punteleer.
Malmesbury het nou ‘n loslootjie vir die 19de, met geen Vlag-bepalings vir die 12de nie.
Die span wat aan die WP Trips-liga deelneem het op Bergvliet skynbaar ‘n rolballes gekry.
Hulle kom met geen punte huistoe nie, met Altus Myburgh, Zelda Jordaan en Abu Harif wat sy eerste verteenwoordigende wedstryd gespeel het, wat 9-30, verloor.
In die eerste twee stelle verloor hulle 3-9 en 5-15, maar in die derde stel word daar op elke skof net 1 punt afgestaan of opgetel, en buig hulle die knie met 1-6.
Deon Bosch, Tia Petersen en Kobus Vermeulen trek ook swaar en verloor 7-29, met die stel tellings 2-6, 0-13 en 5-7 onderskeidelik.
Hulle speel Saterdag tuis teen Constantia, wat hulle tweede laaste wedstryd van die liga gaan wees. Intussen is die klub enkelspelkampioenskappe aan die gang en daar was reeds ‘n paar verrassings gewees.
En dan spog die klub met nog ‘n nuwe lid. Cobus Groenewald, wat gereeld aan die Sakemanne Toernooi deelneem, het besluit dis nou die tyd om die lekkerte van eenkeer ‘n jaar 3 wedstryde te speel te verruil vir die geleentheid om soveel soos jy wil, te kan speel.

  • Roux Vermeulen

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*