Rolbal val net-net vas

Rolbal val net-net vas

Malmesbury se mansrolbalspan het Saterdag op Goodwood se perk met eer uit die stryd getree, ondanks ‘n naelskraapse verloor van 36-37.
Die span van Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en Jeff Petersen verloor op die laaste kop 15-18 ná die telling gelykop was na 20 skofte.
Die eerste stel deel hulle 7 elk, maar tel in die tweede stel op die laaste skof 3 punte op om 7-3 te wen.
In die laaste stel het hulle die wind van voor gekry en kon hulle slegs op die tweede laaste skof 1 punt aanteken, voor die noodlot toeslaan en hulle die 3 skote afstaan. So het hulle 1,5 punte teenoor Goodwood se 3,5 verdien.
In die ander wedstryd veg Roux Vermeulen, Altus Myburgh, Brian Howell en Rainier verbete terug ná hulle 4 skote op die eerste skof afgee, maar wen die stel 10-7.
Die tweede stel verloop ook baie goed en wen hulle 6-2, net om op die 1ste twee skofte van die derde stel 5 en 2 af te gee, wat ‘n 16-9 voorsprong op 16 elk laat.
Met 4 punte voor met die aanvang van die laaste skof en groot hoop om die wedstryd algeheel vir Malmesbury te wen deur net die skoot te lê, kyk die geluksgodin weg en Goodwood skuif die witbal in ‘n onbereikbare posisie in om 2 skote op te tel.
So, alhoewel die span 21-19 wen, behaal Goodwood 1 skoot meer, met daardie 2 punte ook in hulle sakkie, en Malmesbury verloor dus 5,5-6,5.
Brian het na ‘n jaar uit kompeterende rolbal, en na talle jare by Mowbray, baie ondervinding gebring na die span, en behoort gou weer sy voete te vind.
Malmesbury bly in die 4de posisie ná Gordonsbaai, Goodwood en Old Oak, en speel Saterdag tuis teen Glen Country Club.
In die WP Trips behaal Malmesbury se span ‘n goeie oorwinning tuis teen Bellville.
Dawie Horn, wat sy debuut in die liga gemaak het as skip, Ricardo Rickett en Tia Petersen wen al drie hulle stelle met 4-3, 7-5 en 11-4 onderskeidelik om 22-12 te wen.
Die span van Deon Bosch, June Rickett en Henfré Brand deel die eerste stel 4 elk, verloor naelskraap die tweede 7-8, en verloor kop op die laaste skof om 5 skote af te staan en die telling 15-23 te maak.
Maar gegewe die onervarendheid van die spelers, is die wen van 37-35 nie te versmaai nie en op die punteleer wen hulle 7,5-4,5.
Hierdie span speel ook Saterdag tuis teen Mowbray.
Almal is welkom om die spelers te kom aanmoedig.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*