Rooidraai – 80 Jaar jonk

Rooidraai – 80 Jaar jonk

Rooidraai, nou onder die bestuur van Janus le Roux, vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar.
Le Roux, wat van kindsbeen ‘n passie vir landbou het, het per toeval sy pad gevind na hierdie stuk grond net buite Malmesbury.
Le Roux het by die plaaslike tak van Nitrophoska gewerk, toe hy ‘n betrekking by “Oom Danie Loubscher” aangebied is toe hy die plaas gekoop het.
So het Le Roux in Augustus 1988 begin boer.
Sy pa het hom altyd grappenderwys voorspel dat hy eendag met ‘n blonde vrou sal trou en dat hy nie vir iemand anders sal boer nie.
Presies wat toe wel nie gebeur het nie.
Hy het met Johanna, ‘n donkerkop-vrou, getrou en boer tot vandag vir die Carinus-broers op Rooidraai.
“Ek is nou al vir 34 jaar die uitvoerende bestuurder soos hulle dit sal noem, maar ek is nie die eienaar nie.”
Le Roux het vir drie jaar vir Loubser geboer voor die plaas op veiling gekom het.
“Almal het vir my toe gesê Janus, bly net waar jy is.”
Die Carinus-broers het die plaas Rooidraai op ‘n veiling bekom.
Le Roux is trots op sy verhouding wat hy en sy werknemers met mekaar het.
“Dis ‘n wedersydse respek.
“My mense het ‘n geleentheid om meer geld te verdien. Ons skep deurlopend geleenthede waar ons die plaas en sy mense kan verbeter.”
Op Rooidraai is daar ‘n stelsel waar werknemers “per stuk” betaal word.
Dus word hulle ekstra beloon in parstyd, as hulle in die wingerde besig is om mandjies te vul.
“Ons het die een oggend van 06:30 gewerk en teen 11:30 kom ‘n vrou na my toe met 111 mandjies wat sy gevul het. Dit is lekker om te sien hoe almal eienaarskap neem en geniet wat hulle doen en beloon word daarvoor.”
Vroeër jare het Rooidraai aan Riebeek Wynkelder gelewer, maar met die oorkoop van die plaas deur die Carinus-broers in 1991, het hulle aan KWV begin lewer.
Le Roux vertel van ‘n episode van “Uit en Tuis” wat op die plaas geskiet is in 1983, toe Babs du Plessis se oorlede man op die plaas gestaan het in gesprek met Riaan Cruywagen.
“Hy het toe genoem dat dit op daardie stadium die grootste droëland-wingerdplaas in die suidelike halfrond is. Dit was nog altyd my begeerte dat ons 600 hektaar wingerd het. Ons is naby daaraan. Ons trek by 500 hektaar.”
Aangesien die plaas uitstekende grond lewer en min water, het Le Roux besef dat iets gedoen moet word om in hierdie behoefte te voorsien.
“In ongeveer 2004 het die klimaat aansienlik verander. Jy kon toe nog met droëland-wingerd geboer het. KWV het ons aangeraai om ‘n plan te maak, want om die beste kwaliteit te kry, moet die druiwe fisiologies ryp wees.”
Le Roux het begin wonder oor die rioolwater van Malmesbury en waarheen dit gaan. Hy het ondersoek ingestel, planne op die tafel gesit en ná hy en sy bure koppe bymekaar gesit het, is die tender vir die gebruik van die rioolwater aan die vyf plase toegeken.
Hulle moes egter bewys lewer dat die water bemagtig gaan word en so het die Fairtrade-projek die lewe gesien. Weens hierdie projek kon hulle hoër pryse beding vir hul wingerd en is hierdie ekstras in die werkers terug geploeg met die bou van die Masakane-skool op Malmesbury – juis vir die werknemers van die deelnemende plase se kinders.
Le Roux vertel dat hulle sowat 200 000 liter water per uur in die winter pomp vanuit hierdie afvalwater.
Een van die uithalerwyne waarin Rooidraai se druiwe geproe kan word, is KWV se Roodeberg.
Die beste ding wat met hierdie plaas kon gebeur, was dat die Carinus-broers dit gekoop het,” vertel Le Roux.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*