Rugby: Wesbank leer Koringberg ‘n les

Rugby: Wesbank leer Koringberg ‘n les

Wesbank RVK het Saterdag op Moorreesburg vir Koringberg RVK ‘n behoorlike rugbyles geleer toe hy die tuisspan met 12-59 verniel het.
Hierdie oorwinning het ook gedien as wraak vir Wesbank se skok nederlaag in 2019 teen Koringberg. Wesbank het uit die staanspoor uitmuntende rugby gespeel alhoewel daar soms basiese foute was.
Dit was ook weer goed om te sien hoe die voorspelers en agterspelers mekaar komplimenteer deur die nodige ruimte te skep om met die bal te hardloop.
Wesbank het die telbord geopen met n drie deur Hendryke Mathesen en Korinberg het ook terug geslaan met n drie deur die spoedvraat Monrood Diedericks om die telling gelyk te maak. Wesbank se voorspelers het egter die wedstryd begin domineer en gereeld die voordeel lyn oorgesteek met die Tyreec Liedeman wat ‘n doring in Koringberg se vlees was op agsteman. Wesbank het toe nog twee drieë gedruk deur Ralton Du Toit en Leoniel Pietersen. Leoniel het ook ‘n goeie dag met sy skopvoet beleef en altesaam 17 punte vir sy span aangeteken. Wesbank het voor rustyd sy bonus drie gaan druk deur die drieëvraat Reduwaan April, wie tans op 10 drieë staan in die eerste rondte en die spanne het gaan water drink met die telling 05-26.
Wesbank het die tweede helfte in ‘n volgende rat oorgeskakel en hulle volgehoue druk het aan hulle ‘n strafdrie besorg. Die vlugvoetige skrumskakel Bevan Abrahams het ook Koringberg gereeld aan die raai gehad met sy breekslae en sy agterlyn goed weg gestuur om nog 4 drieë te gaan druk.
Koringberg het laat in die wedstryd verwoed terug geveg maar kon nie hul aanvalle in punte omskep nie. Koringberg se Lawrenzo Farao het laat in die tweede helfte ‘n troosdrie gaan druk, maar die koeël was reeds deur die kerk vir die tuisspan wie nou 9 uit 9 wedstryde verloor het in die eerste rondte en sal hul sokkies moet optrek in die tweede rondte indien hulle nog saam die groot honde wil blaf volgende jaar.
Darling het Saterdag Moorreesburg se harte gebreek deur hulle te ontneem van ‘n welverdiende oorwinning op Darling.
Darling het in die eerste helfte baie takties en in die regte areas gespeel. Moorrreesburg was egter baie goed voorbereid vir die wedstryd en het hulle baie goed van hulle taak gekwyt. Die intensiteit was groot in die eerste wedstryd en beide spanne was baie fisiek en behoorlik onder mekaar ingeklim. Dit was veral die senter Ruan Van Rooy wie soos n Tsunami onder Darling se verdedigers ingeklim het en telkemale moes die tuisspan rondstaan wanneer Van Rooy op die aanval was.
Van Rooy was ook beloon met n drie. Darling het eerste gaan druk deur ‘n sagte drie deur Gerrit Carlolus waarna Moorreesburg teruggeslaan het met n drie deur die Formule 1 karretjie Jason Damonz. Die wedstryd was vir beide spanne baie moeilik met gietende reën wat neergeval het. Darling het ‘n verdere twee drieë gaan druk deur Henville Cleophas en Shane Samuels. Moorreesburg het egter nooit tou opgegooi nie en dit was veral die vlugvoetige Jaydon Markus wat vir Darling groot kopsorge besorg het en Markus was ook beloon met twee drieë. Darling was baie goed in die skrums en Moorreesburg het nie antwoorde gehad nie. Laat in die tweede helfte het Darling vir 10 minute geboer in die helfte van Moorreesburg maar kon nie punte aanteken nie. Dit was toe dat die skeidsregter besluit het om na ‘n skrum ‘n raaiselagtige strafdrie aan Darling toe te ken om Darling weer die voortou te gee. Moorreesburg het laat in die wedstryd alles gegee om weer punte aan te teken maar Darling het sterk gestaan en kon die oorwinning in die sakkie sit met 30-26.

Abbotsdale het die eerste rondte afgesluit as die enigste onoorwonne span in die Swartland Grootuitdaag beker deur Villagers Wittewater ‘n groot pakslae te gee op sy tuisveld. Daar was uit die staanspoor geen keer aan Abbotsdale nie en Wittewater het geen teenvoeter gehad vir Abbotsdale se aanvallende spel nie. In die nat weersomstandighede het Abbotsdale se voor- en agterspelers goed gekombineer en was dit duidelik dat dit ‘n lang Saterdag middag vir Wittewater sou wees. Die groot uitblinkers vir Abbotsdale was Wiam Syster en Junaid Afrika wie elk twee drieë gaan druk het. Alhoewel Wittewater soms goed gelyk het, was hulle heeltemal uitoorlê deur ‘n oorgehaalde Abbotsdale span wie gemaklik met 0-60 die knoop deurgehaak het.

Good Hopes van Riebeek-Wes wie se eerste rondte bietjie wankelrig begin het, het hulle weereens goed van hulle taak gekwyt die naweek toe hulle Porterville geklop het. Die wedstryd het teen ‘n hoe tempo begin met veral Porterville se voorspelers wie behoorlik die druk toegepas het en sodoende strafskoppe afgedwing het. Good Hopes het egter hierna wakker geskrik en stadig momentum opgebou met hul voorspel met Andile Farao, Fernando Poedel en Hansie Appollis aan die spits. Agterlangs het Mishaun Arendse, Durwin Fortuin en Anthony Abdol gedurig Porterville se verdediging aan die raai gehad.

Never Despair het hulle Goeie eerste rondte op ‘n hoë noot afgesluit deur gemaklik af te reken met Saron. Never Despair het weereens uithaler rugby opgedis om die besoekers gemaklik op Malmesbury met 47-23 te klop en sodoende sterk in die prentjie om die top twee plekke te bly.

Spanne sal die volgende paar weke ‘n welverdiende kans geniet na ‘n paar strawwe derby-wedstryde en Boland se Munisipale Kompetisie skop 2 Julie 2022 af wanneer Swartland Munisipale Streek gasheer speel vir die Saldanha Munisipale Streek.
-Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*