Seeff Malmesbury

Seeff Malmesbury

Seeff Malmesbury vaar goed ten spyte van inperking

Die verkope van eiendom op Malmesbury, slegs sowat 70km vanaf Kaapstad, het die afgelope jaar goed gegroei, ondanks die inperking weens die Covid-19 pandemie.

Volgens Pierre Germishuys, prinsipaal van Seeff Eiendomme op Malmesbury, waar daar ongeveer 30 000 inwoners is, is 76% van kopers tussen 20 en 50 jaar oud terwyl 67% van verkopers tussen 40 en 65 jaar is.
Seeff Swartland is in November 2004 geopen en was destyds by Voortrekkerweg 123 gesetel. Vandaar het die tak na 18A Rainierstraat geskuif, waar dit vir etlike jare die mense van die streek bedien het. Die tak het as die Swartland en Namakwaland se hoofkantoor gedien tot dit by Latjieskloof Beleggings aangesluit het en die perseel in 2018 na 95A Voortrekkerweg geskuif het.

“Myns insiens is daar hoofsaaklik drie faktore wat verkope hier op die dorp stimuleer. Die belangrikste is dat Malmesbury se eiendomme goeie waarde vir geld bied. Dan is die dorp se ligging ten opsigte van Kaapstad en die Noordelike voorstede met vinnige toegang via die pas voltooide N7, ideaal. Dit is naby genoeg om daagliks na werksplekke en inkopiesentrums in sowel Kaapstad as die noordelike voorstede te reis.
“Die historiese lae rentekoerse, die laagste vir die afgelope 50 jaar, is ook ‘n groot positiewe invloed op die eiendomsmark en help dat voornemende kopers makliker huise kan aankoop.”

Die dorp het sowat 8300 wooneenhede en die afgelope jaar is daar 180 eiendomme vir ‘n totaal van R178 miljoen verkoop. Die gemiddelde prys van residensiële eiendomme was sowat R990 000. Van hierdie transaksies was 56 erwe teen ‘n gemiddelde prys van R475 000, terwyl die gemiddelde prys van wooneenhede R1 270 00 was. Die hoogste prys was R4.5m. Sowat 45% van kopers maak gebruik van verbande waarvan die gemiddelde waarde R1 270 000 beloop.

“Nog ‘n rede vir ons sukses is dat Seeff Eiendomme ‘n groot, bekende en sterk handelsmerk is wat volle ondersteuning aan die takke lewer. Ons personeel is deeglik opgelei en ons het al die nodige toerusting en vaardighede om ons kliënte op professionele wyse te kan bedien. Dit het veral tydens die inperkingstyd gegeld en bygedra tot ons suksesse van die afgelope jaar. Ons kon ander maniere vind om eiendom te verkoop sonder om ons huise te verlaat,” het Pierre gesê.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*