Sjef Robert droom van ‘beach bum’ dae

Sjef Robert droom van ‘beach bum’ dae

‘n Fondasie is meer as 30 jaar gelede reeds gelê, en alhoewel hy en sy vrou voortbou, is dit met nuwe visie en entoesiasme.
Robert Moreland was al vanaf kindsbeen aan die voorbereiding van kos blootgestel. Dit was soos die lug wat hy ingeasem het.
Vanaf die ‘Parade’ in Kaapstad, uit ‘n ‘dubbel decker’ bus wat soos ‘n eetplek ingerig was, tot en met Malmesbury, waar sy pa later ‘n restaurant besit het.
Op naweke, asook middae na skool, was hy en sy broers verplig om hulle pa in die restaurant te help.
Harde werk en toewyding was aan die orde van die dag want dit was hul brood en botter.
Alhoewel hy ‘n passie vir houtwerk en sport gehad het, het Robert homself vroeg berus by die feit dat hy sy toekoms in die wêreld van kos en kook sou voortbou.
Dit was waar sy sterk punt gelê het, en met sy dryfkrag was hy gemotiveerd om dit na die beste van sy vermoë te doen.
Robert noem dat hy ten alle tye ‘n pen en sakboekie op hom gedra het. Sodoende kon hy resepte neer pen wanneer hy spreekwoordelik met ‘die oog’ gesteel het.
Deur die gesels deel hy sy agtergrond asook geskiedenis in die restaurant bedryf en dit is indrukwekkend.
Ná skool begin hy werk by Maureen’s in Bloubergstrand, waarna hy by die Tulbagh Hotel, Mount Nelson asook die Mariners Wharf in diens was as óf hoof sjef óf sous sjef.
In die 80’s kry Robert die geleentheid om ‘n restaurant, onafhanklik, in Bloubergstrand te bestuur.
Maar as ‘n jong getroude man, het die pendel tussen werk, huis asook die lang ure, dit baie uitdagend gemaak.
Die perfekte geleentheid kom egter in 1989 te voorskyn, toe die restaurant wat destyds aan sy pa behoort het, in die mark gesit word.
Robert koop Barry’s Grill en dit is die oomblik waar sy lewe onherroeplik verander.
Die kennis wat hy oor die jare opgebou het kon hy nou onvoorwaardelik in sy eie restaurant stort asook belê.
Daar is niks ongewoons aan uitdagings op ‘n mens se lewenspad, en 1996 bring so ‘n uitdaging mee. Dit dra by tot die besluit om die eiendom te koop waaruit hulle tans bedryf.
Hy verander die naam van sy restaurant na Barry’s Beef and Barrel en noem grapsgewys dat, alhoewel hy geen verbintenis tot die naam Barry het nie, hy dikwels as Barry aangespreek word deur kliënte.
In die jaar 2000 vind daar nog ‘n goot verandering in Robert se lewe plaas. Hy vind God en kom tot bekering.
Sy passie vir die woord is ooglopend. Hy noem dat dit hom baie emosioneel maak wanneer hy besef dat sy pad al soveel jare gelede deur God uitgelê is.
Vanuit moeilike omstandighede, wat ‘n negatiewe impak op sy lewe kon hê, het hy die deursettingsvermoë gehad en die krag ontvang om dit te neem en in iets positief te omskep.
Robert en sy vrou, Hesleen, wat hy as sy regterhand beskryf, is nou al 32 jaar in die bedryf om van diens aan ander te wees. Dit is vir hulle ‘n fondasie waarop hulle voortbou want daar is welbehae in mededeelsaamheid.
Oor die jare het hulle klein veranderinge aan die restaurant gemaak, soos die toevoeging van ‘n deli as ook ‘n kroeg in 2018.
Met die uitdagings wat die Covid-pandemie meegebring het was hulle egter verplig om buite die boks te dink en bietjie nuwe lewe in die besigheid te blaas.
Dit was die perfekte geleentheid vir Robert om sy oneindige liefde vir duik, hengel en die see tot die bestaande restaurant toe te voeg.
Die nuwe seekos-afdeling, ‘RobsterLobster’, wat baie toepaslik na sy duik naam vernoem is, spog met sy eie menu. Dit sluit alles van verskillende vis, kreefstert, prawns, seekosplatters en nog meer in.
Tans is dit die enigste menu waar ‘n mens so ‘n groot verskeidenheid van seekos by ‘n restaurant op Malmesbury kan vind.
Hy noem met trots dat hulle altyd gefokus is op uitstekende diens en uitmuntende kwaliteit kos. Almal maak foute, maar almal verdien ook om ‘n tweede kans gegun te word.
Robert is gevul met ‘n wysheid wat slegs deur lewenslesse asook ‘n kennis van jou Bybel meegebring kan word.
Hy sluit af deur te noem dat mense nie bang moet wees om uit hulle gemaksone te tree nie.
Moenie jou blindstaar aan jou omstandighede. Kyk liewer na ‘n oplossing en onthou om altyd te beplan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*