Skole verwelkom Leerders

Skole verwelkom Leerders

Die skole het Maandag hul deure geopen vir die nuwe skooljaar en Graad 1-leerders het grootoog die nuwe afdeling van hul lewe ontarm. Janie en Robin Bothma het Maandag by die hekke van die Laerskool Swartland op Malmesbury ingestap en deel van die skool geword. Bo is die tweeling Jana en Inge Booysen wat vanjaar in Graad 1 is, saam met ousus Liné.

Die nuwe skooljaar het Maandag begin en die plaaslike onderwyskorps is slaggereed om die bul by die horings te pak en die jaar ‘n sukses te maak.
By die Hoërskool Swartland op Malmesbury, het beplanning vir die 2021-skooljaar reeds in September 2020 begin.

“Ons het geweet daar mag moontlik struikelblikke wees, wat die normaal na die abnormaal kan verander. Alle aktiwiteite, akademie, sport en kultuur, is beplan in ‘n volledige skoolkalender. In hierdie tydperk (8-15, 23 Februarie 2021) sou die Somer-interskoleweek plaasgevind het in die volgende sportsoorte naamlik atletiek, gholf, tennis, swem en krieket.
“Met die akademie is die volledige sillabus beplan vir elke leerarea of vak in 2021. Agterstande het wel ontstaan in 2020 weens selfstudie tuis en die agterstande sal ook ingehaal word. Ons het in ons beplanning, nuwe programme soos “You can do Math”, aangekoop wat elke leerder kan ondersteun om agterstande in te haal,” vertel Justus Schoonraad, skoolhoof van HSS.

Volgens John Stewe, skoolhoof van die Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury, is hul onderwysers nou gerat vir ‘n jaar waar ‘n pandemie dinge kan vergemoeilik.

“Anders as in 2020, is die personeel nou meer gerat vir onderwys tydens ‘n pandemie.

Onderwysers het die afgelope 2 weke hard gewerk aan voorbereiding om die leerders op 15 Februarie vir die 2021 – akademiese jaar te ontvang. Ons matrieks was die afgelope week by die skool om hul hand-en skryfboeke te ontvang. Onderwysers het ook bemiddeling deur virtuele vergaderings ontvang van die 2021 akademiese onderrigprogram in alle vakke vanaf graad 8 tot 12 en hul beplanning daarvolgens voorberei. Die beplanning is spesifiek gerig om agterstande aan te spreek. Grondlynassessering is ‘n baie belangrike plan wat vir die eerste week van die eerste kwartaal gaan plaasvind om vas te stel waarmee kom graad 8 tot 12 leerders na die klas toe – iets wat nie voorheen in onderrigplanne voorgekom het nie.
Onderwysers is dus goed voorberei op die aanpassings en vernuwings in die onderrigplanne.”

Onderrigmetodes het ook die afgelope jaar aansienlik verander en aanpassings was nodig.

“Die skuif van klasonderwys met ‘n onderwyser en leerlinge in ‘n klas na E-leer het skielik plaasgevind. By Hoërskool Swartland het ons lank voor Covid-19 die teorie van afstandonderrig begin debatteer, alhoewel die konsep meer gefokus was op virtuele skole op ander dorpe met HSS die sentrum van die E-leer fokus. HSS se voordeel was dat onder leiding van mnr. Brian de Beer en ander lede van die personeel, HSS baie vinnig E-leer kon bemeester en ons binne twee weke die skool kon draai van klasonderwys na E-leer.,” aldus Schoonraad.

Volgens Stewe het Schoonspruit reeds planne gemaak vir ‘n derde en vierde vlaag wat moontlik die land kan tref.

“Ons werk aan ‘n aanlynonderrigprogram waar meer leerders kan baat vind. Ek wil beklemtoon dat my personeel afgerolde notas voorberei het vir alle grade tot in die tweede kwartaal indien ‘n nuwe vlaag sy opwagting maak.

Kommunikasie tussen die skool en die ouers en leerders is uitgebrei. Ouers en leerders kan inskakel op die skool se amptelike Facebookblad: Schoonspruit Amptelik.”

Swartland is ook gerat hiervoor.
” Indien ‘n derde vlaag aan die begin van die winter die Wes-Kaap tref, sal ons gereed wees uit die ervaring van 2020. HSS se protokol is aangepas, ‘n aantal keer hersien sodat ons in een dag sal kan omskakel. Elke gr.9-12 leerder het in 2020 reeds e-pos adresse by die skool ontvang. Nuwe leerders en die nuwe Gr.8’s sal in week 15-19 Februarie hul nuwe e-pos adresse ontvang sowel as opleiding ontvang om MS Teams, ZOOM en ander programme te gebruik. HSS is dus gereed vir enige verandering onder die Covid-19 regulasies.”

Met die nuwe onderrigmetodes en verminderde klastyd, het die akademiese en sportprestasies in 2021 ietwat anders gelyk.
” HSS kon die volledige sillabus afhandel vir 2020. Die aantal druipelinge vir Gr.8-11 in 2020 was baie min maar vakgemiddeldes het gedaal. Die waarde van die onderwyser in die klaskamer is uitgewys deur Covid-19. Sport en Kultuur speel ‘n uiters belangrike rol in die geheelontwikkeling van ‘n Rockie. Baie geleenthede is leerders ontneem a.g.v. Covid-19. Dink maar aan die Cravenweek of die koortoer na Europa wat sou plaasvind in Desember 2020. Covid-19 het sielkundig verskillend ingewerk op elke leerder. ‘n Aantal leerders het geliefdes aan die dood afgestaan en die impak van Covid-19 was andersoortig op hul lewens. Die SGOS-departement werk hard om die Rockies te ondersteun ten opsigte van emosionele uitdagings,” sê Schoonraad.

Gevra of ouers hul kinders met ‘n geruste hart skool toe kan stuur, het Stewe baie positief geantwoord: “Baie beslis! Ons is voorbereid! Ek wil beklemtoon dat elke leerder ‘n daadwerklike poging moet aanwend om sy/haar eie gesondheid en leer te bestuur en verantwoordelikheid daarvoor te neem – dit is in ons elkeen se belang.”

Schoonraad het ook elke leerder en onderwyser se gesondheidsbelange op die hart gedra en die personeel gevra om hulself te isoleer die week voor die terugkeer na die skool.

“Ek het ook die ouers gevra dat die leerders hulself die week voor die skole begin, moet isoleer. Daar is ook ‘n duidelike afname in positiewe Covid-19 getalle in die Weskus 1 distrik. Leerders kan slegs veilig wees by ‘n skool indien die gemeenskap hulself beskerm deur sanitering, maskers te dra en veilige afstande te hou. Die skool is gestruktureerd en reëls word afgedwing, die Covid-19 protokol sal ook by die skool in stand gehou word. HSS sal alles binne sy vermoë doen om alle regulasies instand te hou sodat die Rockies veilig onderrig sal ontvang.”

“Die skool se ouers was nog altyd ondersteunend en ons is dankbaar dat hulle steeds bly bid vir die personeel en leerders van HSS,” sê Schoonraad.
“Dit wil voorkom of dit weer ʼn jaar vol uitdagings sal wees wat enig aan sy soort is en wat uitsonderlike leierskap van ons almal sal verg. Ouers is hul kinders se grootste ondersteuningsbasis, dus kan hulle nie meer apaties staan teenoor hul kind(ers) se gesondheid en veiligheid asook hul onderrig en leer nie. Elkeen moet ‘n volwasse en positiewe gesindheid in die verband openbaar,” sê Stewe oorgehaal.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*