Skryfgogga byt Heléne behoorlik

Skryfgogga byt Heléne behoorlik

Die Swartland word geken aan sy koring, kanola en goeie wyn, maar hierdie streek is ook die tuiste van talle kunstenaars en skrywers.
Een van hierdie talentvolle kunstenaars is skrywer, Heléne de Clercq.
‘n Trotse Noord-Kapenaar, wat nog steeds in haar geestesoog, die ongelooflike kinderjare sien wat sy ervaar het op die plaas, waar haar ouers in die Brandvlei-distrik in die Noord-Kaap geboer het.
Heléne matrikuleer aan Hoërskool Calvinia en studeer onderwys, maar besluit om daarna vir ‘n jaar te au pair in Salzburg, Oostenryk, voor sy begin skoolhou.
Haar liefde vir skryf het reeds op hoërskool al begin. Sy noem dat sy bevoorreg was om uitstekende leermeesters reg deur haar skoolloopbaan en jare as student te hê.
Hulle het haar ook geïnspireer om ‘n passievolle taalonderwyseres te word.
Die ‘skryfgogga’ het Heléne egter drie jaar gelede met mening gebyt, nadat sy ‘n skryfkursus voltooi het by Janie Oosthuyzen se ‘Skryfgeheime’.
Soveel so, dat haar kinderboek, ‘‘n Vreeslike Gevloekery’ onlangs sy verskyning op die rak gemaak het.
Sy noem dat die titel aanvanklik net tydelik was, maar Naledi-uitgewers was mal daaroor en het besluit om dit so te hou.
Met hierdie boek het Heléne gepoog om vir kleintjies kindervriendelike knope te leer, sodat hulle hul emosies op ‘n gepaste manier kan uitdruk wanneer hulle byvoorbeeld seerkry of kwaad is, sonder om vir mamma óf pappa te laat bloos.
Foeftenjorts, skotteljons, fiedeldons en allamapstieks is voorbeelde van hierdie oulike ‘vloekwoorde’ wat in die boek gevind kan word.
Sy het al verskeie kortverhale geskryf en laat publiseer.
Een van hierdie verhale, ‘Die Smaak van Oorwinning’, gaan in Mei 2022 in een van die Penguin-Lapa-bundels opgeneem word en in ‘n skolebundel vir graad 4 tot 7-leerders verskyn.
Dié kortverhaal gaan eintlik oor ‘n Nutella-toebroodjie, maar die tema van puberteit, word aangespreek.
Heléne noem dat sy ‘n hele paar projekte in die pyplyn het, maar sy is glad nie haastig nie, en is doodgelukkig, terwyl sy kan fokus op haar ander liefde, as taalonderwyseres by CPM in Malmesbury.
Sy sluit af deur te noem dat skryf vir haar terapeuties is, maar dat sy ook die tyd wil gebruik om haar talent uit te leef en te ontwikkel en hopelik ander deur die proses sal inspireer. ‘‘n Vreeslike Gevloekery’ is beskikbaar by boekwinkels soos PNA, Bargain books en Exclusive books of kan bestel word by Tertia Swart (Naledi) 0786488616 teen R140 per kopie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*