Splinternuwe wa vir Malmesbury se brandweer

Splinternuwe wa vir Malmesbury se brandweer

Die Swartland Munisipaliteit het verlede week ontvangs geneem van ‘n splinternuwe brandweerwa.
Die toevoeging tot die vloot is ‘n waardevolle opgradering en dra by tot Swartland se toewyding om inwoners en eiendom te beveilig.
Die Uitvoerende Burgemeester, Harold Cleophas, het die voertuig in ontvangs geneem namens die Munisipaliteit. Die nuwe brandweerwa kan 3000 liter water dra en het ‘n vloeitempo van 1800 liter. Dit beskik oor ongeveer 3 kubieke meter stoorplek en ‘n PTO-pomp (Power Take Off). Die nuwe voertuig is ‘n groot verbetering op die bakkie wat vervang word. Die nuwe voertuig is aangeskaf teen ‘n koste van R 1.55 miljoen (BTW uitgesluit) en is toegerus vir Swartland se behoeftes.
Brandbestryding is ‘n gedeelde verantwoordelikheid tussen die plaaslike munisipaliteite en distriksmunisipaliteite.
Die Swartland Brandweerdienste is hoofsaaklik verantwoordelik vir struktuurbrande binne die munisipale grense terwyl die distriksmunisipaliteite omsien na veral veldbrande.
Daar is tans gesprekke tussen die onderskeie rolspelers aan die gang om hulpbronne meer effektief te deel en aan te wend. Alle rolspelers is dit eens dat die belange van ons inwoners voorkeur moet geniet.
“Ons is so bly vir die nuwe toevoeging tot ons vloot. Hierdie is egter nie die enigste nuwe brandweerwa wat ons gaan kry nie. Daar is begroot vir nog ‘n addisionele brandweerwa in die huidige finansiële jaar. Ons moet seker maak ons voertuie en gereedskap word goed onderhou en vervang soos en wanneer dit nodig is. Dit is in belang van ons hele gemeenskap!” sê Burgemeester Cleophas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*