Swartlanders in sensus getel

Swartlanders in sensus getel

“Elke paar jaar rol die Nasionale Regering ‘n sensus-projek uit wat daarop gemik is om data in te samel oor Suid-Afrikaners. Die data word gebruik as ‘n hoeksteen vir alle beplanning en begrotings, vanaf munisipale vlak tot op nasionale vlak.
“As ‘n Munisipaliteit is dit vir ons uiters belangrik dat elke inwoner van Swartland deel neem aan die proses.”
So sê die uitvoerende burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas.
“Akkurate data oor die hoeveelheid huishoudings, sosio-ekonomiese omstandighede van huishoudings, en toegang tot basiese en gevorderde dienste, is uiters belangrik. Die data speel ‘n deurslaggewende rol wanneer dit kom by die deel van die Nasionale en Provinsiale begroting waarop ons geregtig is.
“As inwoners dus nie deel neem nie, kan dit wees dat ons in die toekoms minder befondsing vir projekte vanaf die Nasionale en Provinsiale Regering sal ontvang en dit kan ‘n negatiewe impak op dienslewering hê, wat weer belastings kan beïnvloed. Deur deel te neem aan die sensus, help u ook ‘n akkurate prentjie te skep oor waar watter dienste benodig word, veral wat provinsiale en nasionale dienste betref. Sensus-data kan ons help om die aanvra van skole en klinieke te ondersteun.”
Stats SA gaan drie metodes gebruik om die sensus mee uit te voer:
• Rekenaarondersteunde Persoonlike Onderhoud (CAPI),
• Rekenaarondersteunde Webonderhoud (CAWI), en/of
• ‘n Rekenaarondersteunde telefoniese onderhoud (CATI).
“Alle inwoners word aangemoedig om te registreer en u voorkeuropsies te kies om die sensusvraelys óf met óf sonder die bystand van ‘n sensusveldwerker te voltooi. Registrasie kan via slimfone of rekenaar gedoen word verg geen data nie. Indien u enige probleme met die aanlyn registrasieproses ervaar, kontak asseblief die STATSSA-inbelsentrum by 0800 110 248.”
Om te registreer gaan na https://getcounted.statssa.gov.za/#!/home . Die sensus begin op 2 Februarie 2022.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*