Tamaai trosse

Tamaai trosse

Op Bonataba-plaas van Dole Africa groei daar tamaai-trosse druiwe met ewe groot druiwekorrels – 25mm om presies te wees. Hier meet André Smit, bestuurder, die korrels van trosse wat amper reg is om gepluk te word. Op hierdie plaas is dit reeds paktyd waar die uitvoerdruiwe verpak en versend word vir die internasionale mark. Wyndruifboere het ook begin pars.

Wenke met parstyd
Met parstyd kort op wynprodusente se hakke – en in sommige areas reeds in volle swang – deel Vinpro se span wingerdboukundiges hul wingerdwenke tydens die 2022-pars.

Bobaas beplanning
Berei goed voor vir die komende pars. Kry parsgereedskap gereed en vergewis jouself van die keldergraderingstelsel en druifontledingsnorme.
Beplan en skeduleer ook nou reeds vestigingsaksies, onder andere grondvoorbereidingsaksies, vir die 2022-plantjaar, en handel ook nou reeds die vestigingsondersoeke en beplanning vir 2023 af, sodat plantmateriaal betyds bestel kan word.

In die wingerd
Besproei volgens wingerdblokke se behoefte, maar neem die wyndoelwit en verwagte oesdatum voortdurend in aanmerking tydens besluitneming rondom besproeiing. Hoë vogstremming en/of té nat toestande voor oes is nie wenslik vir optimale geur- en kleurvorming en goeie druifontledings nie.
Tydens lowerbestuur, tip aktiefgroeiende wingerde om die translokasiestroom na trosse te verbeter. Breek blare oordeelkundig indien lowers bo die trossone te dig is vir goeie beligting en deurlugting. Verwyder groen en swak gekleurde trosse op 80% deurslaan vir ʼn hoë kwaliteitswyndoelwit, asook natrosse.
Hou vol met nodige voorkomende programme vir swambeheer, veral by laat kultivars en waar nodig. Moniteer vir witluis en beheer waar nodig met die regte plaagmiddels, maar hou steeds streng by onthoudingsperiodes vir hierdie middels. Indien die onkruidstand problematies is, moet onkruide ten minste op die bankies beheer word om kompetisie vir water en voeding uit te skakel.
Onthou om steeds aandag te gee aan jongstokontwikkeling, en moenie bemesting later as einde Januarie toedien nie.

Ryp en reg
Wat die pars self betref, begin vroegtydig met rypheidsmonitering en maak seker dat druiwe by die regte rypheidsgraad vir die spesifieke wyndoelwit gepars word. Bly in noue kontak met die wynmaker om hom/haar op hoogte te hou van die verwagte parsdatum vir die onderskeie wingerdblokke, asook om die nodige reëlings te tref in terme van lewering.
Vir enige verdere navrae of advies, kontak gerus ʼn Vinpro-wingerdboukundige in jou streek by die besonderhede hier, of kontak 021 276 0429 of info@vinpro.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*