Teatergroep bring nuwe lewe na Riebeek-Wes

Teatergroep bring nuwe lewe na Riebeek-Wes

‘n Groep aspirant silwerskerm-akteurs, Route2Roots, ‘n jeugteater, het onlangs uitgebrei na Riebeek-Wes.
GreenAct International en UNI Jeug Koöperatief in samewerking met raadslid Nicolene Smit, bied ‘n produksie, Roseline, aan in dié Swartlandse dorp. Chantal Booyse is die produksiebestuurder en Jurgen McEwan is die kreatiewe direkteur. McEwan lewer ook ‘n solo produksie genaamd AKKIE op die aand.
McEwan is verder bekend vir sy rol as Clem Pekeur in Arendsvlei, vertolker van die stem van Selim in die Turkse sepie Elif en vele ander teater produksies.
Altesaam 18 jongmense tussen die ouderdom van 14 en 24 vorm deel van hierdie produksie.
“Ek is so trots op ons wyk se kinders wat so getrou kom oefen, gedissiplineerd en kreatief is. Hulle trotseer lang ure van repetisies en is trots op hulself. Hul selfvertroue het met rasse skrede verbeter. Hierdie produksie is ‘n uitvloeisel van die Aktiewe Burgerskap en Uitvoerende Kunste-werkswinkels wat in 2019/2020 deur Swartland Munisipaliteit se jeugontwikkelingskantoor aangebied is in alle wyke.
“Hierdie produksie is die eerste van vele want daar gaan ‘n volhoubare program ontwerp en uitgerol word om ons Jeug se talent te ontwikkel en hulle verder aan die industrie bloot te stel,” sê Smit.
Die Produksie vind plaas op 24 Junie 2022 om 19:00 in die Riebeeck- Wes Stad Saal, Kaartjies kos R50.
Vir verdere navrae kontak:
Chantal Booyse – 061 195 6724, chantal.mdsa@gmail.com of chantalb@apii.org.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*