Tuinkenners gee raad met voorbereiding van plantgrond

Tuinkenners gee raad met voorbereiding van plantgrond

Ja, volgende week is dit Maartmaand en op 21 Maart raak dit amptelik herfs.
Dan het ons korter dae en hopelik meer gematigde weer (en een van die dae lekker reën).
Wanneer ek my tuingrond voorberei vir nuwe aanplantings, is daar ‘n paar belangrike dinge om te onthou en te doen:
Vir jou Blombeddings:
Verwyder die ou plantreste en onkruid, breek die grond goed los met ‘n vurk of graaf, gooi ‘n lekker dik laag kompos oor en voeg daarby beenmeel of “Root Builder”, superfosfaat en ook ‘n bietjie “Bio Ocean” van Atlantic Fertilizer.
Nou moet dit alles ingespit en deurgewerk word, sodat die grond en al die bestandele deeglik meng totdat jy ‘n lekker fyn, klontvrye bedding het wat dan gereed is vir die aanplant van blomplantjies of blombolle.

Plantgate vir bome en struike:
Vir struike en rose kan plantgate so plus minus 50 x50 x50cm wees, maar vir bome moet dit niks kleiner as 1x1x1m wees nie.
Wanneer jy die gat grawe, probeer die bogrond eenkant uithaal en die ondergrond aan die ander kant uitgooi.
Nou hoor ek gereeld dat mense sê hulle het onder in die gat ‘n klomp blare of grassnysels of mis gegooi met ‘n lagie grond bo-oor en daarna die struik/boom bo-op geplant.
Ander meng weer die grond met kaf/strooi of hulle het die kaf in sulke lae met die grond tussenin gepak en plant dan die plant daar bo-op!
Asseblief, tuiniers, die bostaande metodes kan lelike negatiewe gevolge hê.
Die plant kan selfs vrek!
Onthou, dit wat jy in die grond inwerk, moet reeds gekomposteer wees – plante se wortels het nie die vermoë om material te verteer nie!
Weer eens:
Gebruik ruim kompos (plus mengsel van beenmeel of Rootbuilder, supers en Bio Ocean by die plantgat en meng dit deeglik met die grond wat jy uit die gat uitgehaal het.
Plaas die grond terug in die gat (ondergrond en bogrond in die volgorde soos dit uitgehaal is) tot op die vlak waar die struik of boom moet inkom.

NBNBNB: Onthou om die plantsak/houer waarin jy die boom gekoop het, te verwyder. Trap die grond deeglik vas en stut die plant/boom behoorlik – pasop dat vasbindmateriaal nie wurg nie!
By groot bome kan jy ook ‘n pyp in die gat insit om water tot daar diep onder te neem, wat sal sorg dat die boomwortels afwaarts groei.
Volledige plantinstruksies is ook beskikbaar by die kwekery.

Ten laaste ‘n paar belangrike punte om te onthou:

  1. Blombolle: Begin beplan en koop wanneer dit beskikbaar is, maar moenie nou plant nie!!! Volledige artikel daaroor in uitgawe van 30 Maart.
  2. Snoei oortollige groei van somer blommende bome en struike vir nuwe groei.
  3. Kyk uit vir peste en plae. As jy twyfel, bring ‘n voorbeeld na die kwekery en kry die regte advies.
  4. Moenie die deklaag vergeet nie! Gebruik kompos en boombas in oorvloed.
    Lekker tuinmaak tot 30 Maart, dan gesels ons weer.

George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*