Tuinkenners gee raad oor fynbosplante in jou tuin

Tuinkenners gee raad oor fynbosplante in jou tuin

Die fynbos-plantgroep is baie groot en bestaan uit duisende spesies van verskeie plantfamilies. Ek wil vandag ‘n bietjie gesels oor die fynbos-familie, wat hoofsaaklik bestaan uit: protea’s, speldekussings (Leucospermum), tolbosse (Leucadendrin), boegoes ens.
Dan is daar ook nog die “blushing bride” (Seruria) en die stompies (Mimetes) spesies. Daar is ook die uitheemse soorte soos die “Waratah” en “Geraldton Wax plant” van Australië wat ook baie gewild is. Hierdie is almal plante (struike en bosse) wat baie mooi blom (meestal van Mei tot November) en wat ook as snyblomme gebruik kan word.
Die eerste en belangrikste vir al hierdie tipe plante is die regte grond. Dit moet goed kan dreineer en indien jou tuingrond dalk ‘n bietjie kleierig is, plant hulle teen ‘n helling of maak sulke bulte (mounds) met jou tuingrond sodat die ekstra water kan wegloop. Die plantgat moet sowat 50 x 50cm by 50cm diep wees en die grond wat jy daar uithaal, word met ‘n lekker klomp kosmos gemeng. Moenie enige beenmeel of superfosfaat byvoeg nie, want die fynbosplante hou nie daarvan nie.
Die gat word weer opgevul met die grondmengsel tot op die diepte van die plante wat jy wil uitplant, daarin sal pas. Verwyder die houer versigtig om die wortels van die plant, plaas in die plantgat, gooi nog van die lekker mengsel om verder op te vul en trap stewig vas.
Baie belangrik is om nie die plante se wortels te versteur nie, want dan is jy gewaarborg dat dit sal vrek. Gooi die vars geplante struik goed nat, sodat die wortels kan vassak. Verkieslik moet jou tuingrond suur wees (‘n pH van minder as 7), maar indien dit nie moontlik is nie, kan jy by jou kwekery ‘n grondmengsel koop wat presies vir hierdie plante gemeng is.
Onthou dat wanneer jy jou fynbos ens natmaak, moenie oorhoofse sproeiers gebruik nie. Maak hulle net op grondvlak nat. Wanneer jy water gee, doen dit deeglik en wag tot die grond eers goed afdroog voordat hy hulle weer natmaak. Wanneer die plante te nat is (veral gedurende die warm somermaande), kan hulle maklik wortelvrot opdoen en dit is gewoonlik ‘n doodvonnis. Alles in ag geneem, is dit nie so moeilik om die fynbos-familie te laat groei nie, net ‘n bietjie “TLC”.
Sommige tuiniers sal dalk hul fynbos-tuin met ‘n deklaag wil bedek, deur boombas of houtspimters of selfs dennenaalde te gebruik. Wees versigtig hiervoor indien jy enigsins weet dat daar termiete (rysmiere) in jou tuin-omgewing is. Hulle kom agter die dooie plantmateriaal aan en op die ou end vreet hulle jou plante op. Bedek eerder die grond rondom en tussen die plante met ‘n lekker lag goeie, deeglik gekomposteerde kompos, maar moenie die stamme van die plante begrawe nie, dit kan op die lange duur nadelig wees.
Hierdie plantgroep verkies ‘n sonnige area in jou tuin en sal nie na wense groei indien hulle in baie skadu staan nie. Verder verkies hulle ook lekker vars lug, so daar kan maar ‘n windjie waai om hulle af te koel. Wanneer jou plante nog baie jonk is en jy is dalk bang dat die wind hulle sal breek of die wortels loswoel, pak die jong plante vas met ‘n paar klippe om die plant te ondersteun. Die klippe sal ook sommer die oorywerige tuinhulp weghou met sy vurk en graaf, wat grond om die plante wil loswerk. Onthou, moet dit nóóit doen nie, hierdie plantgroep (en ook alle ander fynbos) haat wortelsteuring!
Dan, ten laaste, kom ons by voeding. Moenie kunsmis (korrels of wateroplosbaar) gebruik nie! Indien jy die kompos-deklaag gedoen het, is die plante al klaar redelik gevoed, Jy kan later, wanneer die plante ‘n bietjie groter is, wel ‘n paar handevol “all purpose” tussen hulle strooi, maar ook nie te veel nie, klein hoeveelhede op ‘n gereelde basis, een keer per kwartaal.

Geniet jou fynbos-tuin.
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*