Tyler: Rugby is in sy bloed

Tyler: Rugby is in sy bloed

Tyler Bocks se eerste liefde was nog altyd rugby. Op 14-jarige ouderdom moes hy reeds sy ouerhuis verlaat en op sy eie voete staan, om die rugbydroom wat hy van jongs af gekoester het, te verwesenlik.
Sy pa, Marlon Bocks, vertel dat Tyler vanaf 3-jarige ouderdom reeds met ‘n rugbybal geslaap het. Vir verjaarsdae was hulle verplig om rugby georiënteerde geskenke vir hom te koop.
Tyler was versot op rugby tydskrifte, en op 6-jarige ouderdom het hy reeds elke rugbyspeler se naam geken asook die posisies wat hul speel.
Dit het die Blou Bulle, Stormers, Sharks en Lions ingesluit asook die plaaslike rugbyspan, Wesbank Rugbyklub, wat kranig deur sy familie ondersteun word.
Sy rugbyloopbaan het by Laerskool Swartland in Malmesbury begin.
Daar het destydse onderwyser en afrigter, Nevin Edas, ‘n groot bydrae gelewer tot Tyler se rugbyontwikkeling.
Aan teleurstellings was daar geen tekort, maar omdat die passie en dryfkrag daar was, het Tyler nooit moed opgegee nie.
Dit het hom net meer vasberade gemaak om homself te bewys.
Harde werk en opoffering was dus aan die orde van die dag, maar sy selfvertroue was bewonderenswaardig.
Tyler se hoërskoolloopbaan begin by Paul Roos in Stellenbosch.
Omdat hy op rugby wou fokus en sy spel wou ontwikkel was dit ooglopend die beste keuse, maar finansieel was dit vir sy ouers bykans onmoontlik. Hy was dus genoodsaak om vanaf 14 jaar reeds te leer om onafhanklik te wees en op sy eie voete te staan.
Met behulp van plaaslike inwoners en besigheidseienaars kon sy ouers egter die oorbruggingsfase vir Tyler makliker maak.
Hulle kan nie genoeg dankie sê vir die onbaatsugtige ondersteuning wat hulle destyds ontvang het nie.
By Paul Roos het die harde werk egter begin. Daar was baie talentvolle jong spelers en Tyler moes dubbel so hard werk om homself te bewys.
Maar, ongeag al die uitdagings het hy nog steeds uitgeblink:
Op 14: Haal hy die ‘W.P Lead Suad’.
Op 16: Haal hy die ‘Grant Como’ W.P-span.
OP 17: Haal hy die Sewes W.P-span asook die ‘W.P Elite’ Span vir Craven Week o.18.
Hy word egter nie gekies vir die SA Ontwikkellingspan nie, en dit was vir hom ‘n groot teleurstelling.
In graad 11 bring onvoorsiene ontwik-
kelinge daartoe mee dat Tyler sy hoërskoolloopbaan by Boys High in Rondebosch voort sit.
Volgens sy pa, Marlon, was dit een van die beste besluite wat Tyler kon geneem het. Afrigter, Peter Engledow, het op sy sterk punte gekonsentreer en dit ontwikkel.
Tyler het die blootstelling gekry wat hy nodig gehad het en van daar is hy in die Craven Weekspan asook die SA Skole Span opgeneem.
Hierdie kranige, jong speler het beslis ‘n indruk gemaak want aanbiedinge van die Lions, Sharks en Stormers was kort daarna op die tafel.
Tyler het egter besluit om hom by die Lions aan te sluit en het ‘n 3 jaar kontrak met hulle geteken.
Hy het onlangs deel uitgemaak van die ‘SA Academy’ o.20-span en is kort daarna, as een van die 30 spelers, vir die Junior Springbok-span gekies.
Sy pa noem dat hy verstom staan wanneer hy besef watter impak Tyler, tot op hede, in ander jong spelers se lewens gemaak het.
Asook die liefde en respek wat sy medespelers vir hom het.
Tyler is egter steeds die nederige mens wat hy nog altyd was.
Sy voete standvastig op Moeder aarde en sy oë gefokus op ‘n hoër hand wat hom genadiglik dra.
Tyler se ouers, Marlon en Carmen Bocks, wil graag almal, wat deur die jare ‘n impak, asook bydrae, tot hul seun se rugby loopbaan gemaak het, hartlik bedank. Dit sluit in familie, vriende, onderwysers, afrigters asook inwoners van Malmesbury. Die passie en liefde was daar vanaf die begin en deur die jare moes daar dikwels opofferings gemaak word.
Maar…harde werk, geloof asook die liefde en bystand van baie, het hierdie droom vir jong Tyler Bocks van Malmesbury verwesenlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*