Uys lei Malmesbury Veiligheid

Uys lei Malmesbury Veiligheid

Uys van der Westhuijzen, ‘n bekende gesig in komando- en millitêre-kringe, staan nou aan stuur van Malmesbury Veiligheid, ná hy verlede week tot voorsitter herkies is.
Malmesbury Veiligheid is ‘n organisasie vir en deur Malmesburiërs wat besluit het om in te spring en hand by te sit om die dorp en sy inwoners te beveilig.
“Die organisasie het ontstaan toe daar ‘n behoefte gesien is om die idee dat landelike veiligheid net op plase van toepassing het, in die kiem te smoor. Landelike veiligheid sluit jou dorpe in die landelike gebiede in en hierdie twee is onlosmaaklik van mekaar. Ons sal die dorp en die plase saam moet laat werk en dit gee vir ons meer hande om te help en oë op die grond en so die area veilig te maak en om krisisse te hanteer. Dit gee ons ook die moontlikheid om met instansies soos Swartland Munisipaliteit, wat deel is van landelike veiligheid, saam te werk. Ons moes ‘n weerbaarheidsstruktuur staanmaak,” verduidelik van der Westhuijzen.
Malmesbury Veiligheid het verskillende WhatsApp-groepe vir die verskillende buurte van Malmesbury, waar daar slegs noodgevalle op aangemeld word.
Die groepe en reaksie van die lede werk baie goed en die ondersteuning wat die publiek en inwoners vanaf die organisasie kry in oomblikke van nood, is onmiddellik.
“Die organisasie werk goed, want ons het mense wat passievol is oor dit wat hulle doen. Ons kan sien dit maak ‘n verskil. Ons het al komplimente van die polisie ontvang oor die lede se optrede binne die dorp.
“Ons is dankbaar teenoor diegene wat tyd en baie geld opoffer om van Malmesbury Veiligheid ‘n sukses te maak. Ons almal weet wat die brandstofprys is en wat dit nog gaan wees en die lede ry honderde kilometers op eie onkoste om ‘n patrollie op Malmesbury uit te voer. Hierdie gebeur ook op die plase. Dis groot areas wat gedek moet word. So maak ons ‘n verskil vir ander en vir onsself.”
Volgens Van der Westhuijzen sal die organisasie nog kan versterk as diegene wat buite die kring staan en deur die organisasie gehelp word, ook inklim en help en ondersteun.
“Ons doen goed, want ons mense is uit die gemeenskap, vir die gemeenskap, net soos ons slagspreuk sê.”
Volgens hom het staatsinstellings in talle ander provinsies nie meer die kapasiteit om te kyk na die omgewing waarin hulle val nie.
“Mense het besef dat hulle na hulself sal moet begin kyk ook. Wat nou die ongeluk hiervan is, is dat hierdie persone wat onbaatsugtig hulle diens, tyd en geld opoffer vir hierdie doel, se fondse kon aangewend word om besighede uit te brei of om infrastruktuur uit te brei. Die geld wat ons spandeer aan kameras en heinings en ander sekuriteitsmaatreëls, kon ons anders gebruik het.”
Volgens hom moet die stappe wat geneem word om die omgewing en sy mense te beveilig, die eerste keer reg geneem en uitgevoer word, sodat Malmesbury nie deel van statistiek word nie.
Volgens die Amerikaanse teorie van die Gebreekte Ruit-effek, moet selfs die geringste oortredings polisieër en teen opgetree word.
“Hierdie konsep verduidelik dat alles by hierdie petty crime begin en dat dit die pad aandui vir groter en meer ernstige misdaad wat in die toekoms wag vir die gebied.
“Hoe minder daar aan gedoen word, hoe vinniger kry die kriminele element sy houvas op die dorp.”
Dit sluit rommelstrooi en dronk op straat in.
“Ongelukkig lyk dit of Malmesbury stadig maar seker besig is om in hierdie rigting te gaan. Ons hoor van bendegeweld en bendehuise op Malmesbury. Hoe meer effektief die stede raak in die bekamping van misdaad, hoe meer kring hierdie probleem uit na die platteland. Polisiëring alleen is nie altyd die antwoord nie.
“Daarom probeer ons om die sosiale omstandighede ook aan te spreek om hierdie probleem te bekamp.
“Mense is ook baie ongeërg deesdae – los jou skootrekenaar in die voertuig, los jou handsak in die voertuig.
“Misdaad het twee elemente nodig – ‘n aanloklike teiken en die kans om weg te kom. Daarom kyk ons na ‘n holistiese benadering vir Malmesbury Veiligheid en om hierdie twee faktore uit die weg te ruim, sodat die geleentheid nie daar is om misdaad te pleeg nie.”
Van der Westhuijzen en die res van Malmesbury Veiligheid is dankbaar vir die goeie samewerking wat hulle van instansies, wetstoepassers en rolspelers ontvang om van hierdie organisasie ‘n sukses te maak.
Van der Westhuijzen deel sy top-veiligheidswenke:
Jy moet ‘n manier hê om te kommunikeer dat jy aangeval of beroof word, soos ‘n paniekknoppie wat jy op jou dra, sodat jy reaksie kan kry vir mense om jou te kom help.
Jy moet ook ‘n veilige kamer in jou huis hê, waar jy jouself kan toesluit indien iets gebeur en so kan veilig bly.
Jy moet aangeskakel en bewus wees van wat om jou aangaan. Nie bevrees nie. Wees bewus van wat rondom jou aangaan.
Moenie jou voertuig oop los of jou handsak in die voertuig los nie. As jy by jou huis inry, wees waaksaam, want dis juis hier waar jy jou waaksaamheid verslap.
Diegene wat by Malmesbury Veiligheid betrokke wil raak, kan die webtuiste besoek by www.malmesburyveiligheid.org of meer inligting op die organisasie se sosiale media inwin onder @MalmesburyVeiligheid op Facebook.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*