Vallei spog met eie radiostasie

Vallei spog met eie radiostasie

Jonathan Genis en Charles St. Clair Bolam is die meesterbrein agter Riebeek Valley Radio. Hulle is ook eienaars van 339South, ‘n produksiemaatskappy. Bo is Jonathan Genis (mede-eienaar en gasaabieder) en Tebra du Plessis en Pierre Marais (aanbieders van die Donderdag-program). Regs is Sunette Burnett, Protea-ruiter wat ‘n gas op die program was. Onder: Taryn Lee Snyders (gasaanbieder) en Azurdee Castello (aanbieder van die Saterdag-program, Valley Vibes).

Die Riebeekvallei spog met ‘n splinternuwe radiostasie, Riebeek Valley Radio.
Jonathan Genis, die mede-eienaar van 339 South – produksiemaatskappy, het reeds jare ondervinding in die media en het op sy tyd vir 30 jaar vir die SAUK gewerk.
Hy het by ‘n radiostasie in Seepunt begin en het ‘n ruk later die skuif na televisie gemaak.
Hy en sy vrou het ses maande gelede na die vallei verhuis en het onmiddellik op die vallei en sy mense verlief geraak. Hy is sedert Februarie 2021 betrokke by KaapstadRadio, waar hy die radiostasie op die webtuiste behartig, en het die idee gehad om hierdie platvorm ook in die vallei te vestig.
Hy het by KaapstadRadio gaan aanklop met die idee van ‘n gemeenskapsradiostasie vir die vallei en is nou ‘n satellietstasie vir hulle.
“Ons sal baie graag in die toekoms ‘n volwaardige stasie wil word. Die voordeel om nou nder die vlerk van KaapstadRadio te kan ontwikkel en groei, is dat ons nou teeen ons eie pas kan groei en ook so kostes laag hou. KaapstadRadio het sowat 300 000 aanlyn-luisteraars, so dit verskaf ‘n lekker sterk platvorm aan ons,” vertel Jonathan.
Hy en Charles St. Clair Bolam, sy vennoot in 339South Productions, dryf die stasie.
Charles woon in die Paarl en is ook die stasiebestuurder, met KaaptadRadio as die stasie se vennoot in die eerste jaar.
Die duo streef daarna om Riebeek Valley Radio in ‘n volwaardige gemeenskapsradiostasie te ontwikkel.
“Een wat finansieel op sy eie voete kan staan. ‘n Stasie deur sy mense, aan sy mense.”
Hulle het met die plaaslike toerismekantoor saamgespan en saai ook weekliks vanuit die toerismekantoor uit.
“Hulle het goedgunstig ‘n vertrek aan ons beskikbaargestel. Ann Heyns en Sean Cleary le Grange, ondersteun ons baie in hierdie projek, want ons is ook ‘n platvorm vir die plaaslike toerismebedryf,” vertel Jonathan.
Omdat hulle die totale gemeenskap wil betrek by die stasie, het hulle ook begin uitreik na die jeug om hulle oor te haal om as omroepers aan te sluit.
“Ons wil regtig die hele gemeenskap betrek. Ons wil ook ons luisteraars vermaak met nuus en kuns uit die vallei, maar ook kwessies wat die gemeenskap na aan die hart lê,” vertel hy.
Vir Jonathan het radio talle lekkertes.
“Volgens my bring dit mense meer by mekaar as televisie. Jy sit om ‘n tafel en gesels soos ou vriende. Jy maak weekliks nuwe vriende. Hierdie is ‘n vallei waar daar baie wynmakers is, so ons het ‘n gebruik begin waar iemand elke week ‘n paar bottels wyn vanuit die vallei saambring, dan sit en gesels ons lekker om die mikrofone met ‘n glas van die beste wyn in die vallei.”
Die lewe in by ‘n radiostasie, hou ook talle skaterlagoomblikke in.
“Ons het verlede Donderdag ‘n onderhoud opgeneem, met ‘n kriek wat êrens in ‘n kas was, en hy het ook besluit om sy mening te gee. Ek moes so stil moontlik probeer uitvind waar die ongenooide gas homself bevind en moes mooi vra of hy nie lewers buite wou gaan saamgesels nie!”
Riebeek Vallei Rendezvous is elke Donderdag vanaf 15:00 tot 18:00 op die lug en ook elke Saterdag kan jy na Valley Vibes tussen 12:30 en 14:30 luister.
Die Saterdagprogram word aangebied deur ‘n Amerikaner van Kentucky, wat met ‘n Afrikaanse boer getroud is. Hulle woon meer as 18 jaar in die vallei – Azurdee Castello.
Sy is ‘n kunstenaar met ‘n Youtube-kanaal “Azurdee & The Blue River Band”.
Skakel in op KaapstadRadio.com om na RiebeekValleyRadio te luister.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*