Van der Westhuijzen lei by Agri SA se Landelike Veiligheid

Van der Westhuijzen lei by Agri SA se Landelike Veiligheid

Die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Landelike Veiligheidsbeleidskomitee, Uys van der Westhuijzen, is dié week verkies as voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid.

Sy betrokkenheid by georganiseerde landbou strek oor baie jare. Mnr van der Westhuijzen, wat buite Malmesbury in die rigting van Klipheuwel boer, het in 1986 by die Malmesbury Landbouvereniging aangesluit, waar hy van 2012 – 2013 voorsitter was. Dit was juis in hierdie tyd met die onlussituasie in 2012 by De Doorns waar hy aktief by Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid betrokke geraak het.

Hy is ‘n senior reserwemag-offisier met die rang van Luitenant-Kolonel en was in in 2018 die eerste Suid-Afrikaanse weermagoffisier wat verkies is as voorsitter van die Internasional CIOR Military Skills Committee, wat by NAVO geaffilieer is en wat militêre vaardighede evalueer. Hy was ook tussen 1998 en 2008 die bevelvoerder van die Kommando in die Weskus-streek en dien sedert 2014 as voorsitter van Agri Wes-Kaap se beleidskomitee belas met landelike veiligheid.

Mnr Van der Westhuijzen sê dit is krities dat al die rolspelers wat in die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie genoem word, saam met Agri SA en sy provinsiale affiliasies werk om landelike veiligheid aan te spreek. Hy sê landelike misdaad is nie net die SAPD en die landbousektor se probleem nie. “Die land se sosio-maatskaplike en ekonomiese situasie speel ‘n groot rol in misdaad, en departemente soos Onderwys en Maatskaplike Ontwikkeling moet deel van die oplossing wees. Wanneer ons net op misdaad fokus, is ons reaktief. Al die rolspelers moet om ‘n tafel sit om pro-aktief ter wille van veiliger gemeenskappe saam te werk,” sê hy.

Hy sê daar moet ophou gedink word dat landelike veiligheid net na plase verwys. “Alle inwoners van die landelike omgewing is blootgestel en ly onder misdaad. Misdaad en investering loop nie hand aan hand nie. Veilige omgewings lok beleggings, daarom is ‘n goed gekoördineerde en geintegreerde benadering tussen alle rolspelers nodig om die kwessie van landelike veiligheid gesamentlik aan te pak.”

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is trots op mnr Van der Westhuijzen se verkiesing.

“Mnr Van der Westhuijzen is uiters kundig wanneer dit kom by alle aspekte van landelike veiligheid. Die werk wat hy oor baie jare op veiligheidsvlak by Agri Wes-Kaap gedoen het, spreek ook van ‘n passie en ‘n dryf om ons landelike gemeenskappe veilig te maak. Ons weet hy is die regte persoon om Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid vir landelike veiligheid te lei en wens hom net die beste toe.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*