Van verslawing tot motiveering

Van verslawing tot motiveering

Van ‘n vaderlose huis, uitdagende omstandighede, heroïen-verslawing, na motiveerder en lewensafrigter – dis die pad wat die lewe met Dencil Hattingh gestap het.

Hattingh, vandag woonagtig op Malmesbury, is die mede-eienaar van Decisive Development, saam met Madalé Rinkwest en Elwin Braaf.
Hier is hy ‘n transformasie-afrigter en motiveringspreker.
Hattingh is deur diep en troebel waters as tiener en jongmens, maar het sy lewe handomkeer verander en vandag deel hy sy lewensverhaal en suksesse met ander jongmense om hulle sodoende te motiveer.
Hattingh het ook aan die Mnr Gay Wêreld Suid-Afrika deelgeneem in 2019 en hiermee gewys dat hy die lewe sal lei wat hy graag wil lei, ten spyte van teenkanting wat hy in die verlede ontvang het.

Hattingh het sy lewensverhaal in ‘n boek saamgevat, waar hy gesels oor die struikelblokke, hoe hy homself leed aangedoen het en hoe hy nooit raakgesien het wat die heeltyd voor sy oë was nie.

“Ek het die boek geskryf om vrede te maak met myself en ook al die situasies waarin ek myself bevind het. Ek het ook hierdeur my verwyte aanvaar,” vertel Hattingh.

“Ek was op ‘n stadium plat op die grond. Maar dis daar wat my lewe begin het. Ek het weer begin leef. Ek het die keuse gehad om te gaan lê of in ‘n hoekie te gaan sit, maar ek het die krag gekry om myself te leer ken, om spiritueel te groei en om te ontdek dat dit nooit te laat is om die werklike jy te wees nie.”

Sy boek is gemik op die persoon wat wil droom en wat iets wil bereik, ten spyte van talle probleme.

“Party van ons sien net die slegte dinge in ons lewens raak en dan verbeel ons die ou dae was beter. Dit sê vir my dat jy niks uit die verlede geleer het nie en dat jy steeds in die verlede leef. Hierdie boek is ook ‘n handleiding van hoe om jou lewe toe te spits op die huidige en hoe om jou dag in iets positief te verander.”
Hattingh se groot droom is om mense, oud en jonk, te leer hoe om hul drome te laat waar word.
“Die boek is propvol inspirasie en lesse om jou te help om ‘n suksesvolle lewe te lei en om nie vertroue te verloor weens die groot impak wat die Covid19-pandemie op ons daaglikse bestaan het nie.”

Hattingh se boek is tans op Amazon beskikbaar, maar sal eersdaags in talle boekwinkels beskikbaar wees.

Kontak hom by 067 607 8424 of stuur ‘n epos na hattinghdencil2@gmail.com.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*