Van Wyk het vars uitkyk op die lewe

Van Wyk het vars uitkyk op die lewe

Adelle van Wyk (47) is ‘n vars Swartlander en ewe vars skrywer. Sy het die een skryfprestasie ná die ander behaal sedert sy skaars twee jaar gelede met ‘n vaart weggespring het agter die toetsbord.

Aan die einde van 2019, ná ‘n leeftyd van 36 jaar op Vredendal, het sy die sprong na Malmesbury gemaak om “nader te kom aan waar die dinge gebeur”, soos sy dit stel. En hoewel die grendeltyd kort na haar intrek wel ‘n paar deure toegeklap het, het dit nie haar skryfspoed laat afneem nie. Sy het in die afgelope twee jaar reeds twee kortfilmdraaiboeke, ‘n vollengte filmdraaiboek, vyf kortverhale (waarvan twee gepubliseer is), drie radiodramas, ‘n verhoogteks en ‘n teks vir ‘n slimfoon-filmopname geskryf.

“Ek glo nie in skrywersblok nie”, gesels sy oor die rand van ‘n pienk melkskommel. “Ek dink as ‘n mens glo dat elke woord wat jy tik, perfek en publiseerbaar moet wees, dan voel jy later daar is ‘n blok, want die woorde wil net nie reg uitkom nie. Maar ek leef volgens die leuse ‘don’t get it right, get it written’. ‘n Mens is nie ‘n professionele skrywer as elke teks wat jy skryf ‘n film word of elke rits paragrawe ‘n boek op ‘n rak word nie. Jy skryf professioneel as jy gedissiplineerd skryf en as jy juis besef: soms gaan jy akkies skryf, en dis oukei.”

Aan die begin van 2019 het ‘n vriendin gepor dat sy deelneem aan ‘n kortverhaalkompetisie, aangebied deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. “Dit was die heel eerste keer ooit dat ek my skryfwerk in die publiek aan ander s’n getoets het.” Sy vertel dat sy die verhaal ingestuur het en totaal daarvan vergeet het – tot een aand elfuur toe een van die beoordelaars bel en vra “is jy nog wakker?”. Die nuus daardie tyd van die aand, was dat sy die wenner van die afdeling vir ongepubliseerde skrywers was.

“Ek reken dit is seker maar die oomblik dat ‘n mens vir jouself sê jy moes darem iewers iets reg gedoen het.”

Ná hierdie sukses, waarvoor sy al die pad Bloemfontein toe is om haar trofee en die boek waarin die kortverhaal gepubliseer is, in ontvangs te gaan neem, het sy haar hand gewaag aan RSG/Sanlam se jaarlikse radiodramakompetisie. “Luister, dit was nou ‘n oerwoud om te betree – ek het nie eers geweet hoe die titelblad moet lyk nie, laat staan nog die res van die teks!”

Nogtans het haar eerste poging haar een van die finaliste van dié kompetisie gemaak en was deel van die voordele, dat sy ‘n persoonlike mentor ontvang het, en ‘n gratis slypskool in Seepunt kon bywoon om die teks behoorlik te kan afrond. Sy het wel in daardie jaar nie onder die eerste drie plekke beland nie, maar die besluit was geneem: iewers sou sy nog hierdie kompetisie wen, maak nie saak hoe lank sy sou moes probeer nie.

Kyknet se Silwerskermfees (vir kortfilms) was ‘n volgende droom wat sy graag wou bewaarheid. Dit is ‘n kompetisie wat in fases werk, waarvolgens ‘n deelnemer eers ‘n konsep moet indien. Daarna ‘n voorlegging aan die beoordelaars moet doen asook ‘n draaiboek moet ingee, as hul suksesvol deur die eerste twee fases sou kom.

“Ek weet van regtig talentvolle skrywers wat nie eers verby die konsepfase kon kom nie – maar in 2020 het die beoordelaars al drie my konsepte aanvaar, en ook my ‘pitch’, sodat ek tot by draaiboekfase beland het.”

‘n Kortverhaal vir die US Woordfees se amptelike kortverhaalbundel, het intussen vorm aangeneem en in 2020 kon sy hierdie spreekwoordelike boksie ook af”tick” – sy is opgeneem in hierdie bundel, wat ook jaarliks uitgegee word en wemel van talentvolle skrywers se verhale. “Ek was regtig dankbaar hiervoor, want daar word nie onderskei tussen beginners en ongepubliseerde skrywers en skrywers wat al naam gemaak het nie.” 

“Mense vra vir my hoekom ek so laat in my lewe begin skryf het en my antwoord is dat ek dit letterlik nie vroeër sou kon doen nie. Dalk is ek ‘n ‘late bloomer’. So, dis seker ‘n jammerte in ‘n sin…”.

In 2020 het die tweede probeerslag vir RSG/Sanlam se radiodramakompetisie gevolg. En op 29 November het die oproep gekom: sy was die algehele wenner van hierdie kompetisie wat in 2020 ‘n rekord aantal inskrywings ontvang het.

“Hierdie is regtig ‘n ding waarop ek trots is, want dit is ‘n groot kompetisie. En ‘n mens skiet saam met die groter kanonne, soos ek dit sommer noem.”

Haar verhaal, “Makkie onthou”, ‘n misdaaddrama waarin ‘n hele paar kinkels vir die luisteraar wag, het met allemintige prysgeld weggestap en sal volgende maand op RSG gehoor word. “Een van ons land se top aktrises speel die hoofrol in my drama en dit is sommer vir my deel van die lekkerte van die prys.”

“Ek glo elke mens is gebore met een kern-aanleg wat in sy of haar are loop. Ek glo vas dat, as jy daardie ding ontdek, het jy eintlik die minimum opleiding daarin nodig, want dit is deel van jou DNA. En as jy dit ontdek het en dit nie doen nie, ja, dan doen jy jouself ‘n onreg aan.

Waarmee is sy tans besig? “Glo dit of nie, maar ek het ingeskryf vir ‘n kortfilmkompetisie wat deur ‘n filmmaatskappy in Hollywood aangebied word. Dit het beteken dat ek moes wegbeweeg van my geliefde Afrikaans vir dialoog, maar dit was groot, groot pret. En ek het darem al die groen lig deur die eerste fase gekry, so wie weet wat kan volg?!”

Ons hou duime en tone vas vir jou Adelle. Hopelik gesels ons binnekort weer.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*