Wenke vir ‘n genotvolle eerste skooldag

Wenke vir ‘n genotvolle eerste skooldag

Wat onthou jy van jou eerste skooldag? Miskien net die foto wat Ma in die tuin geneem het waar jy met jou oorgroot skoolklere regstaan vir ‘n foto voordat julle skool toe vertrek. Of die tranedal om jou ma te los en na die juffrou toe te gaan? Of dalk daardie eerste skoolfoto in die biblioteek waarop jy verskyn met té groot tande en snaakse hare?
Danksy vandag se voorskoolse onderrig, is grootskool nie meer ‘n bangmaakding nie. Die meeste kinders loop daar in met groot glimlagte en afwagting. Dit is die ouers wat deesdae ‘n traan wegpink. Tog is dit normaal dat jou kind wel so ‘n bietjie bang en onseker gaan voel.

Hier volg ‘n paar wenke van kenners:

Doen voorafbeplanning om die onsekerheid uit die eerste skooldag te haal.
Plak so ‘n maand of twee voor die groot dag ‘n visuele kalender op teen die muur en laat jou kind die slapies aftel.
Stel jou kind gerus en verduidelik dat skool ‘n plek is waar jy nuwe dinge leer en baie nuwe maats maak.
Ná die lang Desember-vakansie van laat nagte en lui oggende gaan die aanpassing groot wees om jou kind vroeg wakker en uitgerus te hê vir die eerste skooldag. Help om hierdie oorgang makliker te maak deur die skoolroetine ‘n week of twee vantevore al in te stel.
Of jy nou skool toe stap of met die motor ry, stel vas hoe lank dit gaan neem om soggens by die skool te kom sodat dit nie op die ou end op ‘n dolle gejaag uitloop nie.
Deesdae besoek die voorskoolse klassies gewoonlik gedurende die laaste kwartaal die skool waarheen hulle gaan en ontmoet ook hul gr. 1-onderwysers. As jou kind dit nie meegemaak het nie, is dit dalk ‘n goeie idee om wel so ‘n voorafbesoek te reël.
Gesels met jou kind oor die groot dag. So vind jy uit waaroor jou kind dalk angstig voel en waarna hy uitsien.
Koop jou kind se skryfbehoeftes, skoolklere en -skoene, kosblik, ensovoorts vooraf en merk al die items. Die meeste skole stuur ‘n nuttige lys vir die laer grade uit, maar indien nie, neem dit op jouself om so ‘n lys aan te vra en doen dan die aankoop van die items so gou as moontlik.
Maak seker jou kind weet wat die skooltye, aktiwiteite en nasorgreëlings is (indien van toepassing is).
Jou positiewe gesindheid oor die skool word aan jou kind oorgedra.
Verseker jou kind dat hy met enige probleme/uitdagings by die skool na jou toe kan kom sodat julle saam ‘n oplossing daarvoor kan kry.
Maak seker jou kind is selfstandig wanneer dit kom by aantrek, skoenveters bind, toiletgebruik, en handewas nadat hy in die kleedkamer was. Dit is veral nou belangrik. Jou kind moet ook nie skaam wees om te vra om kleedkamer toe te gaan nie.
Organiseer die vorige aand om die stormloop in die oggend te vermy. Pak saam met jou kind sy tas en maak seker sy skoolklere is reg, skoene is blink gepoets en sy hare en naels is skoon. Maak seker dat almal vroeg wakker is sodat daar genoeg tyd is om gereed te maak.
Maak jou kind deel van die besluit oor wat in die kosblik gepak word. Maak seker jou kind eet ‘n goeie ontbyt. Dit help met sy energievlakke vir die res van die dag. ‘n Honger kind kan nie konsentreer nie. Vermy soetgoed en gaskoeldrank.
Neem verlof vir daardie eerste dag indien nodig. So maak jy seker jy is rustig om jou kind skool toe te neem en weer betyds te gaan haal. Julle het dan ook tyd om rustig oor die eerste dag te gesels.
Jong kinders is dikwels ook skaam om ‘n nuwe onderwyser te ontmoet. Vergesel jou kind op die eerste dag na die klaskamer. Stel die onderwyser in kennis indien daar enige spesiale belange of uitdagings is wat jou kind het.
Probeer om jou emosies voor jou kind te onderdruk. Gaan huil maar liewer op jou vriendin se skouer.

Bron: solidariteit.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*