Werkswinkels: Malmesbury Makers maak Malmesburiërs kreatief

Werkswinkels: Malmesbury Makers maak Malmesburiërs kreatief

Malmesbury Makers het onlangs die lig gesien en is besig om baie vinnig in gewildheid te groei onder die kreatiewe siele van Malmesbury.
Die konsep van Malmesbury Makers het ontstaan tussen twee vriendinne wat lus was om ‘n kreatiewe uitlaat te kry, maar ter selfder tyd die plaaslike besighede te ondersteun. Hulle het jammer gevoel vir die klein winkels, verskaffers en plaaslike entrepreneurs wat swaar trek ná die gevolge van die Nasionale Inperking weens Covid-19.
Die twee vroue agter Malmesbury Makers, wat kies om nie in die kollig te verskyn nie, beskryf hulself as “inkommers”, maar dat hulle baie vinnig baie lief geword het vir Malmesbury en sy mense.
“Mens voel tuis hier. Dit voel vir jou asof jy ‘n toekoms hier kan bou. Mens wil dus sien hoe jou dorp vooruitgang maak. Jy wil sien dat dit goed gaan met mense en dat die inwoners gelukkig is en hulself kan uitleef.”
Navorsing wys daarop dat kreatiwiteit in kleiner gemeenskappe lei tot veerkragtigheid van die inwoners, beide ekonomies en psigies. Dit word na verwys as “kulturele kapitaal”. Kreatiewe inwoners dra meer by tot die ontwikkeling van hul omgewing en di­t veroorsaak weer samehorigheid in diverse gemeenskappe.
Volgens hulle is Malmesbury ‘n klein dorpie met groot talent, maar gegewe die assosiasie met nywerhede en verwydering van ongerepte natuurlike skoonheid, word die dorp soms misgekyk deur haar eie inwoners as ‘n kreatiewe aktiwiteitsbestemming. Meeste Malmesburieërs is totaal onbewus van die dienste en vaardighede tot hul beskikking, en betaal maklik ten duurste vir diensverskaffers in die Boland of Kaapstad vir iets wat eintlik onder hul neuse gevind kan word.
Malmesbury Makers bied verskillende werkswinkels aan, juis om die plaaslike kreatiwiteit te prikkel en na vore te bring.
Die eerste een het gehandel oor ‘slow fashion’.
Malmesbury Makers wil mense aanmoedig om of plaaslik klere te koop, of self te maak. Elke deelnemer is geleer hoe om ‘n rokkie te maak, sommer sonder ‘n patroon.
Met die stuur van uitnodigings is hulle so vinnig oorval met besprekings, dat hulle moes spring om ‘n werkswinkel saam te stel.
“Gelukkig is die dorp se mense so entoesiasties en hulpvaardig, dat alles so mooi in plek geval het. Perron Fm het vir ons die spasie geborg om die werkswinkel aan te bied, toe ontdek ons vir Nola Dudley, wat ‘n uitstekende instruktrise is, om die sessie aan te bied. ‘n Paar vriendinne het vir ons stikmasjiene geleen en ons het al die benodigdhede vir die werkswinkel plaaslik aangekoop. Alle materiale en benodigdhede is voorsien en die dames moes letterlik net opdaag en begin knip en stik!”
Dit is ook wat Malmesbury Makers met die volgende werkswinkels wil doen: Jy daag net op en ons doen en voorsien die res. Geen ervaring is nodig nie, juis dat die mense kan wys hoe maklik dit is om iets mooi te skep. Malmesbury Makers poog om een keer per maand ‘n kreatiewe oggend aan te bied, van “slow fashion”, tot koekversier en keramiek verf, tot kranse weef en kerse maak. Daar sal iets wees vir almal en hulle wil met elke geleentheid ‘n nuwe plaaslike kundige kry om die werkswinkel aan te bied.
“Daar is beslis geen tekort aan plaaslike kundiges in die Swartland nie!”
Dit is nou belangriker as ooit om die mense, die entrepreneurs, die makers en die skeppers in jou dorp te ondersteun. Malmesbury Makers hoop om die bruggie te wees tussen die inwoners en die kundiges.
Kreatiwiteit kweek ook geleenthede. Ná die eerste werkswinkel was Malmesbury aangenaam verras om te hoor dat daar skielik dames is wat weer kans sien vir klere maak.
“Dit kan lei tot die ontwikkeling van nuwe klein ondernemings, en die ondersteuning van verskaffers in die dorp. Dit lei weer verder na werkskepping.
“So hou ons Malmesbury se geld in Malmesbury en die dorp maak vooruitgang deur die versterking van die intra-ekonomie. Di­t maak ons trots, en dit is hoekom Malmesbury Makers doen wat ons doen.”
Hou gerus Malmesbury Makers se Facebook blad dop vir opkomende werkswinkels en geleenthede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*