Wesbank melk Darling

Wesbank melk Darling

Wesbank RVK het Saterdag na sy buurdorp, Darling, gereis, met die wete dat daar baie op die spel is in die wedloop om die gesogte Swartland Groot Uitdaag-beker. Dit was die tuisspan wat die beter begin gehad het en is beloon met ‘n drie om die telling 7-0 te maak.
Earl Lewis, wie die drie verdoel het, was ook in die kol met 3 strafskoppe. Ná 30 minute en die telling 16-3 in die guns van die tuisspan, het dit gelyk of dit weer ‘n lang Saterdagmiddag vir Darling gaan wees. Die besoekers het nie handdoek ingegooi nie en kort voor rustyd het die hardwerkende voorspeler Charlie Gerber Darling se verdediging oopgekloof om te gaan druk. Die manne het gaan water drink met die telling op 16-10. Wesbank RVK se dissipline was op die dag baie goed en hul verdediging in die tweede helfte was rotsvas. Darling kon net nie deurbreek nie en het geen antwoorde gehad in die tweede helfte nie en het geen nuwe punte aangeteken nie. Die laaste spyker was egter ingeslaan toe Leonel Pietersen in die tweede helfte vir Wesbank agter die pale gaan kuier het om die oorwinning te beklink.
Wesbank reis weer Saterdag na Abbotsdale RVK om die span wat tans die eerste posisie op die ranglys inneem, aan te durf.
Abbotsdale moes Saterdag hard swoeg vir ‘n oorwinning oor Moorreesburg. Sjampanje-rugby was aan die orde van die dag tussen hierdie twee spanne en Moorreesburg was oorgehaal om Abbotsdale te klop, ná hy die vorige week naelskraap teen Wesbank verloor het.
Abbotsdale het uit die staanspoor die skare se monde op die grond laat oophang met drie vinnige drieë deur Curt-lee Klaasen, Linkem Joseph en die kaptein Shelton Appollis wie van voor af gelei het om die telling 3-17 te maak.
Moorreesburg het nie tou opgegooi nie en na volgehoue druk en slim taktiese skopwerk het Moorresburg se voorste driedrukker, Jehann Bonn, in die hoekie gaan druk en Moorreesburg het ook nog ‘n strafskop oorgeklits en ‘n strafdrie gekry om met die telling op 20-17 te gaan water drink.
Abbotsdale se Milroy Isaacs het ‘n groot impak gemaak en het vroeg in die tweede helfte gaan druk om die telling weer in die guns van die besoekers te swaai. Moorreesburg se tuisskare het bankvas agter hul span gestaan en dit was duidelik dat die tuisspan alles in die stryd sal werp om ‘n oorwinning te behaal.
Ná n tyd van goeie gebiedsvoordeel het Binwill Alexander gaan druk vir die besoekers. Abbotsdale se Wiam Syster het kort voor die einde Moorreesburg se verdediging geflous en onder die pale gaan druk vir wat die beslissende drie was. Abbotsdale sal sy tuisveldvoordeel wil gebruik om sy posisie bo-aan die punteleer te versterk, maar Wesbank het ander planne hierdie komende naweek en sal die kat in die hoenderhok wil gooi, wanneer hy Abbotsdale sal klop in ‘n naelskraapse oorwinning van minder as 7 punte.
Moorreesburg RVK speel Saterdag weer tuis teen Porterville RVK wie die vorige week sy tweede oorwinning behaal het deur Wittewater Villagers te klop. Na twee naelskraapse loesings wat Moorreesburg verdien het om te wen, sal hy hierdie week wil werk aan sy tekortkominge op veral verdediging en ook sy spel in sy eie kwartgebied. Moorreesburg sal ook wil fokus op sy lynstane.
Die stryd tussen hierdie twee spanne sal weer vir groot opwinding sorg, maar Moorreesburg behoort genoeg skietgoed te hê om Porterville te klop met minder as 10 punte.
Koringberg RVK het Saterdag na Malmesbury gereis om Never Despair aan te durf. In die eerste helfte was dit meestal verdediging-oefening vir albei spanne en na 20 minute was daar nog niks te skei tussen hulle nie en was die telling op 0-0. Die klein generaal Sherwin Dyason het begin gebruik maak van sy sterk pak voorspelers en hul heeltyd in die regte kanale gestuur en Never Despair het voor rustyd reeds sy bonuspunt-drie gaan druk om die telling op 26-0 te bring met rustyd. Koringberg het in die tweede helfte met meer vuur begin en oorgeskakel na ‘n ander rat. Die besoekers het verwoed aangeval en is beloon met ‘n drie vroeg in die tweede helfte.
Oorhaastigheid en foute het die besoekers op die agtervoet geplaas en Never Despair het weer gaan druk.
Koringberg kon nie rêrig weer sy ritme vind sonder die bal in die hand nie en toe Never Despair se agterspelers ook begin vlamvat, moes Koringberg rondstaan op verdediging. Never Despair het uiteindelik die wedstryd gewen met 43-7.
Koringberg reis Saterdag na Piketberg in wat ‘n groot wedstryd vir die besoekers sal wees, wanneer hulle Wittewater Villagers aandurf. Albei spanne het nog geen oorwinnings op hul kerfstok nie en hulle weet dat die span wat hierdie wedstryd verloor, amper verseker sal wees van die houtlepel in die eerste rondte. Die wedstryd behoort ‘n titaniese stryd te wees, maar Koringberg behoort net-net te goed te wees vir Wittewater Villagers en die besoekers sal die wedstryd naelskraap met minder as 7 punte wen.
Saron RVK, wie verlede Saterdag vasgeval het teen Good Hopes RVK, speel Saterdag gasheer vir ‘n erg omgekrapte Darling RVK. Die wedstryd tussen Saron en Good Hopes RVK was ‘n spanningsvolle wedstryd wat aan alle verwagtinge voldoen het. Saron het die oorhand gehad in die eerste helfte met sy goeie voorspeler-spel en het verdien om teen rustyd voor te loop met 7-12. Die tweede helfte het egter aan Good Hopes RVK behoort met die wind agter hulle seile. Saron RVK kon geen punte aanteken in die tweede helfte nie en met Good Hopes RVK se agterlyn wat sirkels om Saron se verdediging gehardloop het, kon Good Hopes gemaklik seëvier met 33-12. Dinge raak net moeiliker vir die span van Saron en Darling sal ‘n groot uitdaging wees vir die tuisspan. Darling behoort egter weer op die wenpad te kom met die wete dat ‘n derde nederlaag sy planne om sy titel te verdedig, erg in die wiele sal ry. Darling behoort die wedstryd met meer as 10 punte te wen.
Never Despair speel Saterdag gasheer vir Good Hopes RVK en die wedstryd behoort ook vir groot opwinding te sorg.
Never Despair sal egter sy goeie spel op sy tuisveld voortsit, wanneer hulle Good Hopes RVK met meer as 7 punte sal klop.
•Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*