Wesbank se Violla praat ‘n beurs los

Wesbank se Violla praat ‘n beurs los

Violla Augustus, ‘n graad 12-leerder aan Wesbank Sekondêr op Malmesbury, het onlangs ‘n derde plek landwyd behaal in die Graad 11-afdeling in die Finansiële Literêre Toespraak-kompetisie.
Hiermee het sy ‘n volle beurs ter waarde van R500 000 vir ‘n drie-jaar-kwalifikasie aan ‘n tersiêre instelling gewen, asook ‘n verdere R7500 wat namens haar belê sal word.
Volgens Violla was die stemproses vir haar die senutergende deel van die kompetisie.
Sy moes haar toespraak so wyd as moontlik deel en so haar toespraak oor finansiële beplanning die wêreld instuur.
“Ek het nie geweet wie gaan dit deel, aanstuur en stem nie. Dit was nogal moeilik!”
Volgens Violla het sy die afgelope jare baie geleer oor finansiële beplanning en oor hoe om in haar toekoms te belê.
Al staan Violla se kop na die finansiële wêreld, is dit haar droom om ‘n vlieënier te word.
“Om aan hierdie kompetisie deel te kon neem, is iets wat my baie sal baat in my lewe. Om die beurs te kon wen is vir my ‘n groot seën en geleentheid. Ek wil graag die gemeenskap, my vriende, onderwysers en familie bedank wat my ondersteun het.”

Violla Augustus (tweede van links bo) het Vrydag die derde plek in ‘n nasionale Finansiële Literêre Toespraak-kompetisie ingepalm en so vir haarself ‘n beurs van R500 000 losgeslaan. Bo is sy saam met
Nicole Siebrits, onderwyser, haar ouma Lorna Augustus en skoolhoof Vincent Paramore.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*