Wesbank vlieg hoog

Wesbank vlieg hoog

Wesbank het Saterdag koning gekraai in hul derby wedstryd teen Never Despair.
Ondersteuners van beide klubs van Malmesbury beskou hierdie wedstryd as een van die beste derby wedstryde ooit. Die wedstryd was ‘n riller van ‘n stryd. Never Despair het die telbord geopen met n strafskop. Wesbank het egter geantwoord met ‘n drie deur Nathan Solomons na ongedwonge hanteringsfoute deur die Spair-Boys. Never Despair het egter nie gaan lê nie en het begin rugby speel voorlangs met hul voorspelers wat sterk bal gedra het om Wesbank se verdediging onder druk te plaas.
Na ‘n paar strafskoppe aan Spairs, besluit hul kaptein om te skrum, en hul ratse skrumskakel Monray Adonis gaan kuier agter die pale vir Never Despair se eerste drie.
Wesbank het op sy beurt geantwoord met goeie agterlynspel wat gelei het tot ‘n drie vir Hendryke Mathesen wat verdoel was deur Gavern Skippers om die telling 14 – 10 te maak in die guns van Wesbank.
Wesbank het toe weer verwoed aangeval maar Never Despair se flank het egter ‘n hanteringsfout van Wesbank uitgebuit deur die bal op te tel en te gaan druk om weer aan Never Despair die voortou te gee. Met enkele minute oor het Never Despair se kaptein van voor gelei en dit het gelyk of Wesbank se poging in ‘n nagmerrie ontaard veral nadat hul voorste driedukker met ‘n geelkaart gestraf word net voor rustyd. Met rustyd in sig, onderskep die losskakel van Never Despair die bal en ‘n taktiese skoppie vorentoe veroorsaak dat Wesbank se skrumskakel Bevan Abrahams ‘n vroegtydige duikslag uitvoer op Never Despair se flank wat die skeidsregter noop om ‘n strafdrie aan Never Despair toe te ken. Die manne gaan drink toe water met die telling 24 – 14 in die guns van Never Despair. Die afrigter van Wesbank moes baie hard gepraat het met die manne toe Wesbank teen ‘n baie hoë tempo die tweede helfte begin het. Hul vaart en kragspel het daartoe gelei dat hulle drie drieë druk binne nege minute deur Nathan Solomons, Gavern Skippers en Dashton Wellman met Skippers wat ook goed pale toe skop om die telling 24 – 35 in die guns van Wesbank te maak met nog ‘n halfuur speeltyd oor. Wesbank het weer aanval op aanval geloods, maar Never Despair se verdediging het sterk gestaan. Wesbank het egter nie opgegee nie en sy flank Tyreec Liedeman gaan druk weer om die telling 24 – 40 te maak in die guns van Wesbank. Never Despair het nooit tou opgegee nie met Delano Baartman en die kaptein Henry Jeffries aan die spits en het aan Never Despair nog twee drieë besorg met Wesbank wat met ‘n strafskop geslaag het was dit nog enigeen se wedstryd om te wen op 38 – 43 in die guns van Wesbank met 10 minute se speeltyd oor. Albei spanne het verwoed aangeval om die sege te beklink maar die verdediging alkant was rotsvas, en met die uurglas wat uitloop skop Gerdwill le Fleur die bal uit om die sege aan Wesbank te besorg. Vir Wesbank was Charlie Gerber, Nathan Solomons, Gavern Skippers, Hendryke Mathesen en Bryson Albertus die groot uitblinkers, en vir Never Despair het Delano Baartman en Henry Jeffries uitgestaan asook die skrumskakel Monray Adonis. Wesbank speel Saterdag gasheer vir Villagers Wittewater en behoort hul aanspraak op die titel te verstewig met nog 5 punte in ‘n sege van meer as 15 punte. Never Despair op sy beurt reis na Darling wat beloof om ‘n taai wedstryd te wees wat die tuisspan sal wen met minder as 7 punte.
Koringberg het Saterdag gasheer gespeel vir Saron. Die wedstryd het met ‘n vinnige tempo begin waarop albei spanne verwoed aangeval het en Korries met ‘n oop doellyn die bal aanslaan en Saron net daarna die verdediging van Korries oopvlek en die doellyn oorsteek om die telling 0 – 5 te maak in die guns van Saron.
Ná die afskop het Korries Saron onder druk geplaas. Goeie spel deur Saron en uitstekende lynstaanwerk sit Saron egter op die voorvoet om Korries se doellyn weer oor te steek en die telling 0 – 12 te maak. Korries het voor rustyd weer vir Saron onder druk geplaas en ‘n goeie steek skoppie deur die senter Winston Lee van Wyk skep ‘n geleentheid vir die vleuel Aldrin Marcus wie Saron se vleuel klop en gaan druk en die manne het gaan water drink met die teling 05 – 12 in Saron se guns. Met die afskop het Korries, Saron se skrum oorheers en die voorspelers het Saron met goeie dryfmaalbewegings uit lynstane oorrompel waarop die kaptein Jeandré de Wee oorduik vir ‘n drie en die telling 10 – 12 maak steeds in Saron se guns. Albei spanne het toe plaasvervangers opgestuur en die plaasvervanger vleuel Monrood Diedericks het Saron groot kopsorge besorg met sy blitsige spel en Korries op die voorvoet geplaas waarop die flank Ashwin Frans in die hoekie oorduik en Winston Lee van Wyk dit verdoel om die telling aanskuif na 17 – 12 in Korries se guns.
Saron het nie bes gegee nie en Korries op hul doellyn vasgepen maar na goeie verdediging het Korries die bal afgeneem en die heelagter Tiaan Gous het Saron laat omdraai met ‘n lang lynskop tot in Saron se kwart en Saron weer onder druk geplaas.
Na nog ‘n dryfmaal beweging speel die skrumskakel Elfredo Marcus steelkant om Tiaan Gous gee ‘n steek skoppie wat Lyle Adams deur Saron se verdedigers stuur en die bal optel en oorduik vir Korries se bonuspunt drie wat verdoel is deur die senter Winston Lee van Wyk.
Saron het aan die einde weer gaan druk maar dit was nie genoeg om te verhoed dat Koringberg welverdiend hul eerste oorwinning van die seisoen behaal nie. Koringberg speel Saterdag gasheer vir Porterville en behoort sy segetog voort te sit met nog ‘n oorwinning van meer as 7 punte.

Villagers Wittewater het Saterdag gasheer gespeel vir Moorreesburg wie opsoek was na sy eerste sege in die tweede rondte. Villagers Wittewater het die wedstryd baie persoonlik benader soos ‘n derby. Hulle het hard ingeklim onder Moorreesburg en die besoekers gereeld op hul tone gehad.
Dit wou voorkom of Moorreesburg die tuisspan effens onderskat het, wat daartoe gelei het dat hulle sukkel om in die wedstryd te kom. Die voorspelers van Moorreesburg het egter gedoen by die skrums en die lynstane maar gesukkel by die afbreek punte. In n sukkelende wedstryd vir Moorreesburg het die Formule 1 karretjies Christo Januarie (2 drieë) en Jason Damonze (1 drie) egter uitgestaan.
Christo Janaurie was ook aangewys as die speler van die wedstryd met sy vlugvoetige spel en goeie verdediging. Wittewater Villagers kan hulself in die voet skiet aangesien hul die meeste van die wedstryd op die voorvoet was. Moorreesburg sal beslis wil aanbeweeg van hierdie wedstryd en reis Saterdag na Saron wat nog ‘n taai wedstryd sal wees.
Die tuisspan doen gewoonlik baie goed op sy veld en Moorreesburg sal sy storie moet ken. Die besoekers beskik egter oor die nodige skietgoed om Saron te klop met minder as 10 punte.

Die wedstryde tussen Good Hopes en Darling asook Porterville teen Abbotsdale was afgeblaas as gevolg van geweld en bakleiery en hierdie aangeleenthede word tans ondersoek deur Boland se Dissiplinêre Komitee.

• Abri Adonis

Foto: Wesbank RVK het Saterdag vir Never Despair in die groot derby-stryd geklop met 43-38.
Foto: David Howburg

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*