Wiele: JAC se T8 voeg luukshede en bekostigbaarheid saam

Wiele: JAC se T8 voeg luukshede en bekostigbaarheid saam

Toe ek hoor dat ek ‘n padtoets moet doen met ‘n voertuig genaamd JAC, het ek nie geweet wat om te verwag nie.
Ek het immers nie die naam geken nie en nie geweet wat om te verwag nie.
Is dit Jaq? Is dit Jack? Is dit JAC? Wat is dit?
James Oliver, die vriendelike en hulpvaardige bestuurder van MyRide Malmesbury, het my vinnig ingelig dat jy die bakkie kan noem net wat jy wil, maar dat hy lekker bestuur, is ‘n feit.
En dit het ek ook al te goed besef toe ek die bakkie om die draai sien kom.
JAC is relatief nuut in Suid-Afrika en MyRide het die geleentheid aangegryp om met hierdie handelsmerk hul produkreeks uit te brei.
Maar, terug na die T8.
Dis ‘n bakkie.


Ja, ‘n bakkie wat jy sommer met die intrapslag kan sien en hoor is reg om te werk. Hy het ‘n groot trek na ‘n groot gunsteling onder Suid-Afrikaners, maar is ook uniek en anders genoeg, sodat jy vinnig vertroud raak met dit wat JAC wil bied.
Die bakkie se intreevlak-model skop af met ‘n prys van R392 400, wat bitterlik goedkoop is as jy so daaraan dink. Net onder die R400k en dit vir ‘n bakkie?
Êrens is iets te goed om te waar te wees is wat ‘n mens outomaties dink. Maar daardie kinkel is beslis nie in JAC se kabel nie. Wat jy kry is baie meer as wat jy sien!
En was ek nie aangenaam verras met hierdie knaap nie!
Die T8 1.9 Tdi Lux wat ek pad toe geneem het, het ‘n behoorlike brul vanuit die enjinkap.
Die bakkie word aangevuur deur ‘n vier silinder turbodiesel-enjin, wat vervaardig is in samewerking met die Duitste FEV-maatskappy.
Dit beskik oor 100kw en 320Nm-toere en spog met ses ratte wat gemaklik oorskakel.
Wat hierdie bakkie uniek maak, is die luukshede waaroor hy beskik. En dit vir ‘n voertuig wat nie ‘n bank gaan beroof om in jou oprit te staan nie.
Die bakkie beskik oor ‘n raakskerm-radio, bloutand-versoenbaarheid, kontroles op die stuurwiel, spoedbeheer, ‘n konstante opdatering van jou dieselverbruik en vele meer.
Dit is ruim, met meer as genoeg beenspasie vir selfs diegene wat lekker lank is.
Dit spog met kunsleer, wat vir die leek kompleet na opregte leer sal lyk.
Die chroom-afwerking is net genoeg om die idee van luuksheid aan te hits, sonder dat dit jou paaiement die hoogte sal laat inskiet.
Vir ‘n groot bakkie, is die hanteerbaarheid van die T8 verbasend gemaklik en gerieflik en is hy glad nie skaam om ‘n bietjie ekstra te brul as jy jou voet neersit nie.
Nie net dit nie, maar hy relatief lig op dieselfde vir ‘n bakkie en op die langpad het hy ‘n gemiddelde dieselverbruik van 9 liter per 100km getoon.
Die bakkie is spesifiek ontwerp om mee te ding met ander een ton bakkies wat deur Foton, GWM en ander Sjinese-maatskappye vervaardig word. Die T8 stem baie ooreen in grootte met die Toyota Hilux.
Met sy xenon-ligte kan jy verseker wees dat daar nie ‘n donker kolletjie in die pad sal wees wat jy nie sal raaksien nie.
Die ligte verhelder ook oor ‘n skuinste, sodat jy nie aankomende verkeer verblind nie, maar dit verlig die skouer van die pad teen ‘n hoek, sodat jy deeglik bewus is van wat langs die pad aangaan.
Dit, tesame met die rolstaaf, verseker jou veiligheid.
Op ‘n manier voel die JAC na huis. Dit voel soos ‘n bakkie wat jy al jare ken. Jy hoef nie eers die koppelaarbeheer te vind nie. Jy hoef nie te veel knoppe te stel en te draai om gemaklik te wees nie. In die JAC kan jy net inklim, jouself gemaklik maak en die pad onder die bande laat begin rol, want hierdie bakkie is beslis een wat lus is om te ry.
Vir meer inligting, kontak MyRide op Malmesbury by 021 300 6897 of besoek www.myride.co.za. Maak ook ‘n draai by die handelaar op die hoek van Bergzichtstraat en Voortrekkerweg en bespreek jou toetsrit.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*