Williams: ‘n Kunstenaar in murg en been

Williams: ‘n Kunstenaar in murg en been

Wilmor Williams, 25, van Malmesbury, is ‘n gebore kunstenaar.
Hy noem dat hy reeds vanaf 5 jarige ouderdom, ‘n liefde vir pen en papier gehad het.
Dit het hom groot genot verskaf om na hierdie items te soek in sy susters se skoolsakke na skool, en dit het hulle natuurlik, eindeloos irriteer.
Wilmor noem dat hy nie regtig ‘n groot vriendekring gehad het nie, en teken het die meeste van sy tyd in beslag geneem.
Hy het hom uitgeleef in hierdie wêreld waar hy aan sy kreatiewe gees kon uiting gee.
Dié wat hom as jong seun geken het is glad nie verbaas as hulle tans na sy handewerk kyk nie.
Weens omstandighede kon Wilmor nie na skool verder in die kunste gaan studeer nie.
Dit het hom egter nie terug gehou nie, en hy het besluit om self sekere verftegnieke aan te leer asook om verskeie mediums te gebruik.
Destyds, het ‘n vriend van hom se pa, ‘n verfstel aan hom geskenk en dit het hom ook geweldig aangemoedig.
Alhoewel hy gemaklik is met ‘n verfkwas in die hand, het hy ook al met steenkool geteken.
Wilmor het reeds verskeie van sy skilderye verkoop en het ook al van sy kunswerke by die Emunah Gallery uitgestal.
Dit is egter sy muurskilderye wat tans aandag trek.
Hy het daarop begin fokus as ‘n bron van inkomste, maar ook om nog ‘n vorm van kuns onder die knie te kry.
Wilmor se handewerk is altyd kleurvol met ‘n boodskap van hoop en hernuwing.
Sy eerste projek by ‘Land van Kabouters’ was senutergend, aangesien dit ‘n nuwe uitdaging vir hom was, maar sedertdien is hy baie meer op sy gemak.
Hy het intussen al verskeie muurskilderye gedoen en van sy hande werk pronk by plekke soos St. Thomas Primêr, Porky’s Meat, CK Outlaws Racing asook privaat kliënte.
Wilmor noem dat hy dankbaar sal wees indien hy dalk ‘n vakleerlingskap kan kry by ‘n maatskappy wat spesialiseer in muurkuns of selfs om te help om kunsklasse aan te bied.
Intussen fokus hy egter op dit wat hy kan vermag en om homself bemagtig. Mense is welkom om hom te kontak by 061 187 2958 vir enige navrae of kwotasies.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*