Wyndruifoes 2021

Wyndruifoes 2021

Volgens die jongste skatting deur SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels) en Vinpro word verwag dat die wyndruifoes in hierdie stadium ietwat groter sal wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15 jaar gemiddeld van 1.37 miljoen ton.

Die skatting in Januarie was die tweede van vyf jaarlikse beramings voordat die finale oesverslag in Mei vanjaar bekend gemaak sal word.
“Soortgelyke of ietwat groter opbrengste word in die meeste gebiede verwag danksy matige temperature en voldoende waterbronne wat tot goeie wingerdgroei aanleiding gegee het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling. Daar word verwag dat rypskade langs die Oranjerivier en koue en reënerige toestande aan die Kaapse Suidkus gedurende die blom- en setperiode die opbrengs in hierdie gebiede sal beïnvloed.

Die koue weersomstandighede wat die meeste gebiede teen die einde van die winter ervaar het, was voldoende om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen en bogemiddelde reënval en sneeu het riviere, strome, besproeiingsdamme en grondwatervlakke goed aangevul. Nadat wingerde laat, maar mooi gelyk uitgebot het, het koeler temperature en ʼn bogemiddelde reënval in die lente voortgeduur, wat verder bygedra het tot ‘n effens later, maar goeie blom en set. Wingerdboukundiges was veral in hierdie stadium tevrede met die hoeveelheid en groottes van druiwetrosse.
“Deurslaan was ook laat en stadig weens matige temperature sedert die begin van die somer, en ons het minder skielike temperatuurstygings gesien as gewoonlik wat sonbrandskade beperk en help om die geure te behou. Produsente moet egter op die uitkyk wees vir donsskimmel en witroes en dit proaktief bestuur,” sê Conrad.

Parstyd het ongeveer twee weke later as gewoonlik begin wat tot die bedryf se voordeel óf nadeel kan wees.
Vinpro is bly dat wynbesighede weer kan begin handel dryf met die onmiddellike opheffing van die verbod op plaaslike drankverkope, maar sal as prioriteit voortgaan met verskeie aksies om die bedryf se volhoubaarheid in die langtermyn te verbeter.
Wynbesighede kon sedert Maart 2020 reeds vir 20 weke altesaam geen inkomste uit plaaslike wynverkope verdien nie, wat tot ʼn algehele verlies van meer as R8 miljard uit plaaslike verkope gelei het en steeds ʼn bedreiging vir die voortbestaan van kelders, wyndruifprodusente en die lewensbestaan van 27 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting inhou.

“Die oopstel van wynverkope vir tuisverbruik van Maandag tot Donderdag, asook wynkelders vir verbruik in restaurante en proelokale regdeur die week en oor naweke sal help om van ons plaaslike wynverkope terug te bring na meer volhoubare vlakke,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.
“Hoewel ons bly is dat besighede weer ʼn inkomste kan verdien, lê ʼn baie lang en moeilike herstelpad vir wynverwante besighede voor en is dit selfs vir sommige besighede te laat.”

Vinpro bou as prioriteit voort op verskeie aksies waarvoor die organisasie hom oor die afgelope 10 maande beywer het.
“Ons moet eerstens verseker dat ons bedryf nie weer landswyd soos ʼn ligskakelaar aan- en afgeskakel word deur die regering ongeag verskille in die Covid-19 status in die onderskeie provinsies nie.”

Die organisasie sal daarom voortgaan met die aansoek wat op 27 Januarie 2021 by die Kaapse Hooggeregshof ingedien is om tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot die ander provinsies sal versoek word.
“Covid-19 bly egter ʼn ernstige realiteit wat die lewens en lewensbestaan van Suid-Afrikaners in gevaar stel.

“Ons as bedryf verbind ons daartoe om steeds voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel proaktief te implementeer om werknemers, verbruikers en breër wynbedryfgemeenskappe te beskerm. Ons bly ook deel neem aan gesprekke rondom ʼn risiko-aangepaste benadering om die ekonomie verder oop te maak en oop te hou,” sê Basson.

“Vinpro en ons lede beywer ons vir die verantwoordelike verbouing, produksie, bemarking, verkoop en verbruik van ons produkte, waarvoor ons wêreldwyd erkenning ontvang het,” sê Basson.
“Ons sal ons steeds tot die regering wend vir finansiële verligting om die lewensbestaan van ons 533 wynkelders, 2 778 wyndruifprodusente en 269 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting te beskerm,” sê Basson.
Uitgereik deur Vinpro

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*