Wynkeldershoek

Wynkeldershoek

Plaaswerkers en eienaars vier winsdelingsukses

Bo: Glase is geklink tydens die oorhandiging van ’n seremoniële tjek van meer as R3 mijoen. Van links na regs: Ruan van der Mescht (trustee & algemene bestuurder), Jacoline Galant (trustee), dr. André Neethling (mede-eienaar & trustee), Gwillyn Galant (trustee), Primrose Oliphant (trustee & senior toesighouer) en Harry Williams (algemene werker).
Foto’s: Neil Roux (Lemonade Hub)
Bo: Die Wynkeldershoekwerknemerstrust het die afgelope Vrydag die vrugte gepluk ná hul harde werk en samewerking met ’n vreugdevolle viering naby Malmesbury.

MALMESBURY: “Die Wynkeldershoek-werkne-merstrust het hierdie afgelope Vrydag (26 Februarie) hulle eerste winsdelinguitkering naby Malmesbury gevier met ‘n seremoniële tjek van meer as R3 miljoen.
“Ons is werklik opgewonde dat ons hierdie dag kan vier,” het dr. André Neethling, voorsitter van die trust en mede-eienaar van Wynkeldershoek, wat tafeldruiwe en sitrus produseer, gesê.

“Ons vier die resultaat van harde werk, groei, toewyding en samewerking.”
Die samewerking is ‘n gesamentlike onderneming tussen die Wynkeldershoekwerk-nemerstrust en Neethling Broers, eienaars van die plaas Wynkeldershoek, wat geleë is aan die voet van die Kasteelberg in die Malmesbury-omgewing.

Dit het in 2012 tot stand gekom as ‘n inisiatief om werkers te bemagtig deur landbougrond beskikbaar te stel en te verseker dat hulle finansieel deur die trust bevoordeel word.
Die gesamentlike onderneming huur ‘n deel van die plaas waarop hulle aanvanklik pruime verbou het, maar oor die jare met tafeldruiwe vervang het.

Die Departement van Waterwese het in 2015 altesame 30 hektaar se waterregte aan die Wynkeldershoek-werknemerstrust toegeken, waarna die samewerking verder ontwikkel het.

Die waterregte word op ‘n spesifieke deel van die plaas gebruik, waarop die gesamentlike onderneming tans 21,8 hektaar van die tafeldruifvariëteite Sable en Autumn Crisp verbou.

Dis hoofsaaklik vir die uitvoermark bedoel.

“Dit is bemoedigend dat ons nou hierdie beloning kan deel ná jare se harde werk.

“Dit gee ons as werknemers hoop dat indien ons voortbou op die sukses van die samewerkingsooreenkoms, daar ‘n mate van finansiële sekuriteit vir ons gesinne is,” het Jacoline Galant, een van die trustees en ‘n loonklerk op die plaas, bygevoeg.

Die werknemerstrust het ‘n 40%-aandeel in die gesamentlike onderneming.
Die 29 begunstigdes ontvang elkeen bykans R60 000, wat 60% van die uitkeerbedrag is, gebaseer op die resultate van die 2020-boekjaar.

Die res bly in die werknemerstrust se rekening en sal aangewend word vir inisiatiewe soos beurse vir die onderrig van begunstigdes se kinders asook finansiële bystand om hulle in staat te stel om eiendom te koop.
Hulle beplan ook om donasies te maak aan gemeenskapsorganisasies, want hulle glo dit is belangrik om ‘n aktiewe ondersteuningsrol te speel in die gemeenskap waarin hulle werk.

Die werknemerstrust deel slegs in die gesamentlike onderneming se winste en nie in enige verliese wat oploop nie.

Elsabee Farao, ‘n begunstigde van die trust wat as administratiewe klerk op die plaas werk, het gesê dit is ‘n voorreg om deel te wees van die projek.
“As enkelouer gee dit my gemoedsrus om te weet dat ek in die toekoms kan aansoek doen vir finansiële bystand om my kind die nodige geleerdheid en geleenthede te bied.”

Neethling Broers, met ‘n 60%-aandeel in die gesamentlike onderneming, is ‘n vennootskap tussen dr. André Neethling en dr. Steyn Neethling.
Hulle verskaf die bedryfskapitaal en finansier die vestiging van die vrugteboorde. Die plaas se ervare bestuurder, Ruan van der Mescht, wat ook ‘n trustee is, en sy span verskaf tegniese ondersteuning en mentorskap.
“Ons model is gebaseer op ander suksesvolle bemagtigingsmodelle in ons bedryf wat ons aangepas het om wedersyds voordelig en lewensvatbaar te wees vir ons samewerking,” het dr. André Neethling gesê.

“Ons gee begunstigdes nie net die geleentheid om betrokke te raak in die bestuur van die plaas met formele en indiensopleiding in wat dit verg om ‘n suksesvolle agri-onderneming te bedryf nie, maar lewer ook ‘n bydrae tot hulle finansiële sekuriteit op die lang termyn.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*