Swartland Joernaal vier hul 2de verjaarsdag
Twee jaar gelede, op 31 Oktober, het ‘n koerant die lig gesien met ‘n bemarker, ‘n admin/finansies/
kantoorbestuurder, ‘n direkteur wat moed in praat en nog ‘n direkteur wat al die ander balle
in die lug probeer hou.
Dit alles by ‘n eetkamertafel, waar die ma van laasgenoemde direkteur koffie, broodjies en
soetgoed aandra, want gewerk is daar gewerk.
Die span van die Swartland Joernaal is vandag, twee jaar later, onveranderd, maar hulle
werk darem nie meer van ‘n eetkamertafel nie en het in ‘n kort tydjie groot spronge gemaak.
Hoe dan anders? Hulle moes oorleef en kop bo water hou en swem vir alles wat hulle werd is
toe die mat onder hulle voete uitgeruk is met die sluiting van die onderneming waar drie van die
vaste vier voorheen werksaam was.
Vandag kyk hulle terug met dankbaarheid en groot opgewondenheid oor wat die toekoms nog
inhou. Al is die Swartland Joernaal nog in sy babaskoene, droom hierdie vierstuks groot en
motiveer hierdie drome hulle om altyd vorentoe te kyk.
“Ons was maar ses maande oud toe die hele Covid-ding gebeur het. Dit het baie grys hare
bygevoeg en ons het allerhande nuwe dinge gedoen om te probeer oorleef, maar ons het.
Ons het nie ‘n keuse gehad nie. Dit was ‘n harde leerskool, maar dit het ons geleer om anders te
dink oor besigheid, oor wat ons wil doen en hoe ons dit wil doen. Dit het ons geleer om aan te
pas en om dankbaar te wees vir dit wat ons het.”
En dit wat hulle het, is lojale adverteerders en lesers wat bankvas agter hulle staan.
“Ons het lekker lang gesprekke met van ons kliënte gehad, diegene wat al lank hul eie ondernemings
bedryf en ons het baie by hulle geleer van vasbyt en aanhou. Ons het soveel inspirasie
by ons mede-sakelui gekry en is so dankbaar daarvoor. Elke storie wat aan ons vertel word
deur ‘n leser, elke stukkie inligting wat ons kry, elke boodskap wat dankie sê of vir ons sê as ons
êrens ‘n fout gemaak het, is vir ons van onskatbare waarde. Dit help ons om te groei en om
beter te wees, want ons wil altyd leer uit dit wat ons reg doen, maar ook uit dit wat ons verkeerd
doen. Die slim mense sê as jy by jou 1000ste dag kom, dan kan jy begin om te ontspan. Ons is nou
net so oor die 700, so ons het nog ‘n entjie om te gaan, maar daardie 1000 wink!”
“Ons is innig dankbaar vir elke persoon wat dit vir ons moontlik gemaak het om al twee jaar
aan die gang te wees. Sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.
“Sonder mekaar as ‘n span, sou ons dit ook nie kon doen nie. As daar ‘n krisis is, staan ons
saam as een verenigde front en dit is iets wat ons elkeen se lewens verryk. Ons is nie net kollegas
nie, ons is ‘n familie wat saam lag, saam huil, saam stry, saam opgewonde raak oor ‘n ander
een se kind wat presteer en ons groei saam.”
Die span word verder ondersteun deur Leonita Coutts (verslaggewer), David Howburgh (fotograaf), Cor Cronjé (fotograaf) en Anna-Bet Stemmet (skrywer).