Author: admin

Tuinkenners gee raad met voorbereiding van plantgrond

Ja, volgende week is dit Maartmaand en op 21 Maart raak dit amptelik herfs.
Dan het ons korter dae en hopelik meer gematigde weer (en een van die dae lekker reën).
Wanneer ek my tuingrond voorberei vir nuwe aanplantings, is daar ‘n paar belangrike dinge om te onthou en te doen:
Vir jou Blombeddings:
Verwyder die ou plantreste en onkruid, breek die grond goed los met ‘n vurk of graaf, gooi ‘n lekker dik laag kompos oor en voeg daarby beenmeel of “Root Builder”, superfosfaat en ook ‘n bietjie “Bio Ocean” van Atlantic Fertilizer.
Nou moet dit alles ingespit en deurgewerk word, sodat die grond en al die bestandele deeglik meng totdat jy ‘n lekker fyn, klontvrye bedding het wat dan gereed is vir die aanplant van blomplantjies of blombolle.

Plantgate vir bome en struike:
Vir struike en rose kan plantgate so plus minus 50 x50 x50cm wees, maar vir bome moet dit niks kleiner as 1x1x1m wees nie.
Wanneer jy die gat grawe, probeer die bogrond eenkant uithaal en die ondergrond aan die ander kant uitgooi.
Nou hoor ek gereeld dat mense sê hulle het onder in die gat ‘n klomp blare of grassnysels of mis gegooi met ‘n lagie grond bo-oor en daarna die struik/boom bo-op geplant.
Ander meng weer die grond met kaf/strooi of hulle het die kaf in sulke lae met die grond tussenin gepak en plant dan die plant daar bo-op!
Asseblief, tuiniers, die bostaande metodes kan lelike negatiewe gevolge hê.
Die plant kan selfs vrek!
Onthou, dit wat jy in die grond inwerk, moet reeds gekomposteer wees – plante se wortels het nie die vermoë om material te verteer nie!
Weer eens:
Gebruik ruim kompos (plus mengsel van beenmeel of Rootbuilder, supers en Bio Ocean by die plantgat en meng dit deeglik met die grond wat jy uit die gat uitgehaal het.
Plaas die grond terug in die gat (ondergrond en bogrond in die volgorde soos dit uitgehaal is) tot op die vlak waar die struik of boom moet inkom.

NBNBNB: Onthou om die plantsak/houer waarin jy die boom gekoop het, te verwyder. Trap die grond deeglik vas en stut die plant/boom behoorlik – pasop dat vasbindmateriaal nie wurg nie!
By groot bome kan jy ook ‘n pyp in die gat insit om water tot daar diep onder te neem, wat sal sorg dat die boomwortels afwaarts groei.
Volledige plantinstruksies is ook beskikbaar by die kwekery.

Ten laaste ‘n paar belangrike punte om te onthou:

  1. Blombolle: Begin beplan en koop wanneer dit beskikbaar is, maar moenie nou plant nie!!! Volledige artikel daaroor in uitgawe van 30 Maart.
  2. Snoei oortollige groei van somer blommende bome en struike vir nuwe groei.
  3. Kyk uit vir peste en plae. As jy twyfel, bring ‘n voorbeeld na die kwekery en kry die regte advies.
  4. Moenie die deklaag vergeet nie! Gebruik kompos en boombas in oorvloed.
    Lekker tuinmaak tot 30 Maart, dan gesels ons weer.

George Retief

Malmesbury val vas in Vlag-uitdaag

Malmesbury het Saterdag teen alle verwagtinge in teen Edgemead in die WP Vlag-kompetisie hulle rieme behoorlik styf geloop.
Hulle verloor met 2,5-9,5 ná alles moontlik kon verkeerd loop. Eerstens was twee gereelde spelers, Jehan van Niekerk en SG Basson nie beskikbaar nie.
Brian Howell was olik en letterlik uit op sy voete, alhoewel hy deurgedruk het om te speel en tussendeur gesit het in die hoop om beter te voel. En dan was die meerderheid spelers, in dien nie almal nie, van stryk af of net letterlik swak.
Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en Jeff Petersen het ‘n taai eerste stel wat hulle op die 7 skof met 6-5 in hulle guns beslis. In die tweede stel loop alles verkeerd, hulle gee ‘n 7 af nadat Daniël ‘n opponente-bal teen die witbal speel om die treurmare te begin, en verloor 3-15. Hulle begin die laaste stel met mening en tel 6 op in die eerste skof en wen dit 12-10, maar die slag was ongelukkig klaar gewen en Edgemead kraai 30-21 koning.
Roux Vermeulen, ‘n ongestelde Brian Howell, Altus Myburgh en Rainier van Zyl kom net nie aan die gang nie en verloor die eerste en derde stelle 4-12 en 3-16 onderskeidelik.
Dit sluit in 6 skote op die laaste skof toe selfs die preekstoel nie meer die koeël kon keer nie. Die enigste ligpunt in hulle wedstryd was toe hulle mooi terug geveg het van 4-12 na 11-14 in die tweede stel, maar nie ‘n 3 skoot voorsprong op die laaste skof kon behou nie en met 8 elk gelykop trek. Hulle verloor dus 36-66, volgens Roux een van die grootste pak slae in ‘n lang tyd.
Saterdag is hulle gasheer vir die voorlopers Gordonsbaai en wie weet, dalk is dit net mooi die dag om die 4 punte verskil tussen die twee topspanne uit te wis.
Tuis het die span in die WP Driespel-liga klippe gekou en verloor 1-11 teen Parow. Deon Bosch, Ricardo Rickett en Zelda Jordaan verbeter stelselmatig deur die loop van die wedstryd en verloor die eerste stel 2-11 en die tweede 5-6, voordat hulle die span se enigste punt verdien deur die laaste stel 5-4 te wen.
Dawie Horn, June Rickett en Cobus Vermeulen kry dit net nie reg om deur te breek nie en verloor hulle stelle 3-7, 5-6 en 5-8, nadat hulle 4 op die laaste skof afstaan. Hulle verloor 13-21, en die klub 25-42.
Sondag het die son egter weer geskyn en vyf spanne het deelgeneem aan die WP Parespel-kompetisie, waar vier spanne per afdeling drie wedstryde van 15 skofte elk speel, met die wenners wat deurdring na die uitklopfases.
Dawie Horn en Jeff Petersen wen een en eindig derde in hulle groep.
Deon Bosch en Jehan van Niekerk wen een en eindig laaste, Daniël en Rainier wen twee en eindig tweede, met June Rickett en Tia Petersen wat twee wen en net-net te min punte het om deur te gaan. Vir die eerste keer in jare dring daar weer ‘n span deur met Roux en Lodewyk wat 2 wen en hulle teenstaanders goed afstof met 23-2 en 22-11, ná hulle hulp eerste wedstryd 15-16 verloor.

  • Roux Vermeulen

Betrekkings

Dirkie Uys slaan kishoue

Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg se tennisspanne het die afgelope twee naweke aan toernooie deelgeneem.
Verlede naweek het Dirkie Uys die Agnes Pauw-tennistoernooi vir meisiespanne aangebied.
HDU eindig vierde uit 10 skole. Bloemhof het die toernooi gewen.
Die afgelope naweek het hulle aan die Bredasdorp tennistoernooi gaan deelneem en derde geëindig uit 12 skole.

Rockies slyp tande vir interskole ’22

Die atlete van die Hoërskool Swartland op Malmesbury het verlede week kragte gemeet met die spanne van Hugenote Hoërskool van Wellington en Melkbosstrand in vanjaar se interskole-atletiekkragmeting. Hugenote het die atletiek- en sangbeker gewen. Hier is Swartland se dirigente, wat die ondersteuners op die pawiljoen aangevuur het. Hulle is Cecilia Lambrecht, Kayla le Grange, Athi Gali, Lelethu Sodlulashe, Imraan Sulaiman en Theonè Krüger. Foto: Cor Cronjé

Solidariteit reik uit

Helpende Hand: Die Solidariteit Helpende Hand-organisasie het hulle tak verlede Maandag op Malmesbury geopen. Hierdie organisasie fokus op diegene wat behoeftig is en nie staatshulp ontvang nie. Kontak Jeanie Wiese (voorsitter) by jeanie.wiese@gmail.com indien jy betrokke wil raak. Hier is Jacobus Basson (regs agter – ondervoorsitter), Jeanie Wiese en tweede van links voor is Alicia Visser (sekretaresse).

Sakekamer byeen

Dagboek solank die datum vir Malmesbury se volgende Sakekamer lede-aand wat op 23 Februarie om 19:00 in die Freek Standersaal (Olok) plaasvind.
Anthony Corin van SlimSun Swartland Solar Park buite Malmesbury is die spreker oor: Elektrisiteit/energie-perspektief afwerkend vanaf makro-skaal (internasionaal en nasionaal), na mikro-skaal (dorp en besighede in Swartland).
‘n Vingerete en kontantkroeg sal beskikbaar wees. Kostes is R80 per persoon vir lede en R100 per persoon vir nie-lede. Alle belangstellendes is welkom. Bespreek asb betyds by info@sakekamer.co.za

Ekspo kry momentum

Die kykNET Buite Ekspo Wes Kaap word weer die jaar by Môreson Plaas net buite Malmesbury
aangebied en dit vind plaas die naweek van 25tot 27 Maart 2022. Streng Covid-19-protokol sal
in plek wees soos vereis om almal te beskerm op terrein.
Die ekspo beloof weer om soos altyd iets vir almal te bied. Die fokus is soos altyd op die talle
buitelewe uitstallers wat van die nuutste produkte tans beskikbaar het in die buitelewe- kampeer-
en 4×4 mark. Onthou die geleentheid word in ‘n veilige plaasatmosfeer aangebied en alle
uitstallings word aangebied soos wat dit werklik gebruik sou word deur die koper.
Daar word weer verskeie aktiwiteite aangebied as deel van die ekspo. Hierdie jaar is Action
Ford Malmesbury weer aan boord met die Ford Raptor-ervaring, waar die publiek GRATIS saam
met ervare bestuurders kan saamry en sien waartoe hierdie ongelooflike voertuig in staat is.
Kom ervaar ook die gewilde helikopter ritte en bekyk die Swartland uit die lug. Daar sal weer
‘n lekker braaikompetisie aangebied word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET akteurs en moenie
vergeet van ons Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, onder andere Rooies en sy orkes,
Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Amoré
en Early B!
Kom ry ook GRATIS saam die immergewilde ‘Mnr 4×4’ in sy VW Amarok – André de Villiers
van André 4×4 en aanbieder van Safari 4×4 Roetes op kykNET. Hierdie ervaring is iets wat nie
gemis mag word nie!
Oudergewoonte sal daar nie teleurgestel word met die ‘vloeibare verversings’ nie en dit
beloof om weer uit die boonste rakke te wees asook ‘n groot verskeidenheid beskikbaar – enigiets
van ‘n verskeidenheid wyne in die Swartland Wynkelder-wyntuin (met heerlike kos wat
hierby pas), tot bier en jou gunsteling hardehout en nog meer. Daar sal ook ‘n groot verskeidenheid
kosverskaffers wees en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos.
Vir die dames sal daar ‘n kuns- en snuffelmark wees waar daar ‘n groot verskeidenheid van
kwaliteit produkte beskikbaar sal wees. Ons het ook nie vergeet van die kinders nie en
daar sal ‘n lekker groot pretpark wees en Lollos en Lettie verras weer die Sondagoggend met een
van hulle treffer vertonings.
Onthou alhoewel ons baie aktiwiteite aanbied, bly die fokus natuurlik op die top klas buitelewe
uitstallings.
Beperkte kampering is beskikbaar op terrein – stuur asb ‘n epos aan admin@moresonmalmesbury.
co.za en dan kan ons puik ‘glamping’ tente bespreek word by ryno@you2camp.com.
Dagbesoeker kaartjies sal binnekort beskikbaar wees by ticketmaster.co.za en ook by die
hekke gedurende die ekspo. Probeer asb aanlyn kaartjies koop indien moontlik – dit vergemaklik
dinge by die hekke!
Besoek gerus ons webwerf by www.ekspo.co.za en alle navrae kan gerig word aan Tersia by
accounts@ekspo.co.za.

Chery finds its way to Malmesbury

Chery Automobile Co., Ltd. was founded in 1997 and is now available in Malmesbury as part of the Fuzion Motor Group, owned by John Trollip.
This includes JB’s Nissan, Chery Malmesbury and Perdeberg Motors.
Cherry is a globalized automobile brand located in China.
Over the past 20 years, Chery has always insisted on independent innovation, established R&D centers in China, Germany, United States and Brazil. It also has established a global automotive R&D team of more than 5,500 people – thus gradually establishing the holistic technology and product R&D system. In this way, Chery has successfully created product brands such as Arrizo, Tiggo, and high-end EXEED brand with cumulative global sales of more than 8.3 million units.
Chery has implemented a globalization strategy since its establishment and has become the first passenger car company in China to export complete vehicles, CKD parts, engines, manufacturing technology and equipment to the global market. Up to now, Chery has exports in more than 80 countries and regions, establishing more than 1,500 sales and service outlets with more than 1.6 million accumulative export volume, remaining the biggest exporter passenger vehicles in China for 17 years in a row.
Chery and Jaguar Land Rover Motors jointly invested in the establishment of Chery Jaguar Land Rover Motors Co., Ltd., which is China’s first Sino-British joint venture high-end automobile company.

Nuwe Chery Tiggo4Pro is een om oor huis toe te skryf

In Bokomoweg op Malmesbury het daar ‘n nuwe handelsnaam opgegaan – dié van Chery Malmesbury.
Wat ‘n aangename verrassing was dit nie om die nuwe Tiggo4Pro te toetsbestuur nie. Hierdie nutsvoertuig is kompak, toegerus met alles wat jou hart begeer en meer en hy gaan nie die petrolstasie van al sy vloeistof beroof nie, want hy is lig op brandstof!
En, sy prys is beslis ‘n groter verrassing, veral as jy kyk wat jy kry. Meer waarde vir geld gaan jy nie sommer kry nie.
Die Tiggo4Pro se intreevlakmodel sal jou slegs R269 900 uit die sak jaag, terwyl die vlagskip R359 900 beloop.
Elektronies is die Tiggo4Pro toegerus met net die beste en nuutste.
Jy kan selfs met die voertuig gesels! Omtrent al die funksies is beskikbaar deur ‘n stem-bevel. Al wat jy moet doen, is om te sê “Hey Chery” en sy sal jou antwoord. Sy sal jou vensters oopdraai, die sondak oopmaak, die lugversorger koeler stel, die radiostasie verander en soveel meer!
Dis ‘n aardigheid om aanvanklik so met jouself te sit en gesels, want dit lyk sekerlik vreemd van buite af, maar dis ongelooflik om te sien hoe die voertuig jou opdragte uitvoer. Al het jy ‘n Afrikaanse-aksent!
Die binneruim is luuks en groot genoeg vir ‘n lang persoon om met gemak met uitgestrekte bene te sit. Die bagasieruim is ook groot met genoeg pakplek vir ‘n gesin om vir ‘n naweek weg te gaan.
Die radiopaneel, wat ook oor ‘n tru-rit-kamera beskik, is yslik groot, helder en van hoogstaande gehalte. Van hier af kan jy ook alle verstellings doen.
Sensors reg rondom die voertuig waarsku jou ook as ‘n voorwerp te naby aan die Chery kom.
Die elektroniese kontrolepaneel aan die bestuurderskant bied jou al die inligting van jou rit wat jy benodig, soos die brandstofverbruik, hoe ekonomies jy bestuur, hoe ver jy nog kan bestuur tot die tenk leeg is en vele meer.
Om jou telefoon te koppel met die radio is ook uiters maklik en alle knoppies is op die stuurwiel rangskik vir jou om met gemak en veilig jou telefoon te antwoord of die radio harder te maak – dis nou as jy nie ‘n “Hey Chery” gebruik nie.
Met sy dubbele uitlaatpype lyk die Chery ook asof hy reg is vir aksie – want hy is.
Hierdie nutsvoertuig laat die naald sommer vinnig klim as jy jou voet neersit.
Die rit is gemaklik en gerieflik en voel luuks.
Hy beskik selfs oor ‘n yskassie tussen die voorste sitplekke, sodat jy jou koeldrank of water kan koel hou in die warm somermaande van die Swartland. Die rathefboom gly ook met gemak tussen die outomatiese kontrole en die triptoniese 9 ratte, wat natuurlik die brandstofverbruik so laag as moontlik hou.
Spoed-beheer maak die rit net nog meer gemaklik. Die wieg van die voertuig laat die kilometers behoorlik onder die wiele verbyrol en voor jy weet is jy by jou eindbestemming.
Al is hierdie nutsvoertuig nie juis klein nie, is hy kompak en hanteer hy gerieflik genoeg om in klein parkeerplekkies in te wikkel, sonder om hard aan die stuurwiel te draai.
Met sy heuwel-klim-beheer, is dit geen probleem om teen enige heuwel of hoogte uit te ry nie.
Selfs die grondpad-rit en gemaklik!
Dis ‘n woord wat oor en oor opduik as jy praat van die Chery Tiggo4Pro – gemak en luuks.
Moenie wegskram van die nuwe handelsnaam nie, bespreek ‘n toetsrit – jy sal aangenaam verras word deur hierdie nuweling!
Kontak Chery Malmesbury by 022 482 1124 om jou toetsrit van hierdie nutsvoertuig te bespreek.

Oom Julie dien sy geboortedorp

Julie Robyn is ‘n welbekende inwoner van Moorreesburg en staan beter bekend as Oom Julie.
Oom Julie is gebore op 15 Julie 1936 op die plaas Middelpos in die Moorreesburg distrik. Hy is vernoem na sy geboorte maand Julie.
Hy het as kind geen skoolonderrig ontvang nie en moes vroeg in sy lewe gaan werk om by te dra tot die huis. Hy het tog die geleentheid gekry om as senior aandskoolklasse te loop by Laurie Hugo Primêre skool.
Oom Julie ontmoet sy lewensmaat Sophia Adams in 1957 en in die laat sewentigerjare tree hy in die huwelik met haar.
Tien kinders word uit die huwelik gebore waarvan vier nie volwassenheid bereik het nie.
Oom Julie werk vir meer as 40 jaar op onderskeie plase. In 1944 begin hy op die plaas Visserskraal te werk.
Daardie jare was dit moeilike, rugbreekwerk en jy moes soggens bitter vroeg tot laat in die aande werk. Oom Julie begin 1959 op die plaas Pampoenkraal te werk tot en met 1965. Daarna gaan werk hy vir 14 jaar op die plaas Springleskraal.
Uiteindelik verlaat hy die plaaslewe en kom werk in 1975 by Moorreesburg Munisipaliteit waar hy vir 24 jaar diens doen. In 1978 begin hy te dien op die kerkraad van die NG Sendingkerk Kerk waar hy dien tot en met 2012.
Hy dien op verskeie rade in sy gemeenskap en was ook ‘n groot voorstaander by skoue waar dit kom by demonstrasies oor die plaaslewe van toeka se dae.
Alhoewel oom Julie geen skoolonderrig gehad het nie , is hy ‘n groot dienswerker van Sy Vader en is nog steeds besig om die gemeenskap van Moorreesburg tot vandag toe te bearbei .
Sy getrouheid aan God oor die jare is ‘n bewys dat die Vader nederige mense gebruik om sy dienswerke te voltooi.
Oom Julie word vanjaar 86 jaar oud! Die meeste van sy vriende het hom al ontval.
Hy doen nog gereeld huisbesoeke en as jy sien is oom Julie iewers heen op pad, kierie in die hand, altyd besig om naasteliefde aan sy medemens te gaan betoon.

Bron: Koringbedryfmuseum