Day: January 19, 2022

Tamaai trosse

Op Bonataba-plaas van Dole Africa groei daar tamaai-trosse druiwe met ewe groot druiwekorrels – 25mm om presies te wees. Hier meet André Smit, bestuurder, die korrels van trosse wat amper reg is om gepluk te word. Op hierdie plaas is dit reeds paktyd waar die uitvoerdruiwe verpak en versend word vir die internasionale mark. Wyndruifboere het ook begin pars.

Wenke met parstyd
Met parstyd kort op wynprodusente se hakke – en in sommige areas reeds in volle swang – deel Vinpro se span wingerdboukundiges hul wingerdwenke tydens die 2022-pars.

Bobaas beplanning
Berei goed voor vir die komende pars. Kry parsgereedskap gereed en vergewis jouself van die keldergraderingstelsel en druifontledingsnorme.
Beplan en skeduleer ook nou reeds vestigingsaksies, onder andere grondvoorbereidingsaksies, vir die 2022-plantjaar, en handel ook nou reeds die vestigingsondersoeke en beplanning vir 2023 af, sodat plantmateriaal betyds bestel kan word.

In die wingerd
Besproei volgens wingerdblokke se behoefte, maar neem die wyndoelwit en verwagte oesdatum voortdurend in aanmerking tydens besluitneming rondom besproeiing. Hoë vogstremming en/of té nat toestande voor oes is nie wenslik vir optimale geur- en kleurvorming en goeie druifontledings nie.
Tydens lowerbestuur, tip aktiefgroeiende wingerde om die translokasiestroom na trosse te verbeter. Breek blare oordeelkundig indien lowers bo die trossone te dig is vir goeie beligting en deurlugting. Verwyder groen en swak gekleurde trosse op 80% deurslaan vir ʼn hoë kwaliteitswyndoelwit, asook natrosse.
Hou vol met nodige voorkomende programme vir swambeheer, veral by laat kultivars en waar nodig. Moniteer vir witluis en beheer waar nodig met die regte plaagmiddels, maar hou steeds streng by onthoudingsperiodes vir hierdie middels. Indien die onkruidstand problematies is, moet onkruide ten minste op die bankies beheer word om kompetisie vir water en voeding uit te skakel.
Onthou om steeds aandag te gee aan jongstokontwikkeling, en moenie bemesting later as einde Januarie toedien nie.

Ryp en reg
Wat die pars self betref, begin vroegtydig met rypheidsmonitering en maak seker dat druiwe by die regte rypheidsgraad vir die spesifieke wyndoelwit gepars word. Bly in noue kontak met die wynmaker om hom/haar op hoogte te hou van die verwagte parsdatum vir die onderskeie wingerdblokke, asook om die nodige reëlings te tref in terme van lewering.
Vir enige verdere navrae of advies, kontak gerus ʼn Vinpro-wingerdboukundige in jou streek by die besonderhede hier, of kontak 021 276 0429 of info@vinpro.co.za.

Damvlakke

kykNET Buite Ekspo is terug en reg vir aksie

“Na 2 jaar van ‘geen groot geleenthede’ aanbied nie, kan ons nou weer voortgaan met geleenthede soos die kykNET Buite Ekspo! Alhoewel dit onder streng Covid-19 protokols moet plaasvind, is ons almal (inkluis onsself as organiseerders) baie dankbaar hiervoor.
“Ons is oudergewoonte weer by Môreson-plaas net buite Malmesbury, waar die ekspo al sedert 2014 aangebied word en dit vind plaas die naweek van 25 tot 27 Maart 2022.
“Daar moes ‘n paar logistieke veranderinge aangebring word op die terrein om binne die Covid-19-protokol te val, maar ons het probeer om dit met so min as moontlik ongerief te doen. Ons besoekers en uitstallers se gesondheid kom eerste en dit is dus ‘n prioriteit om alle maatreëls in plek te sit.
“Die ekspo beloof weer om soos altyd iets vir almal te bied. Die fokus is op die talle buitelewe uitstallers wat van die nuutste produkte tans beskikbaar in die kampeer en 4×4 mark uit te stal. Onthou die geleentheid word in ‘n veilige plaasatmosfeer aangebied en alle uitstallings word aangebied soos wat dit werklik gebruik sou word deur die koper.
“Daar word weer verskeie aktiwiteite aangebied as deel van die ekspo wat tans gefinaliseer word. Hierdie jaar is Action Ford Malmesbury weer aan boord met die Ford Raptor-ervaring, waar die publiek gratis saam met ervare bestuurders kan saamry en sien waartoe hierdie ongelooflike voertuig in staat is. Kom ervaar ook die gewilde helikopter ritte en bekyk die Swartland uit die lug. Daar sal weer ‘n lekker braaikompetisie aangebied word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs en moenie vergeet van ons Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, maar meer hieroor later.
“Oudergewoonte sal daar nie teleurgestel word met die ‘vloeibare verversings’ nie en dit beloof om weer uit die boonste rakke te wees asook ‘n groot verskeidenheid beskikbaar – enig-iets van wyn tot bier tot hardehout en meer. Daar sal ook ‘n groot verskeidenheid kosverskaffers wees en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos.
“Vir die dames sal daar ‘n kuns- en snuffelmark wees waar daar ‘n groot verskeidenheid van hierdie kwaliteit produkte beskikbaar sal wees. Ons het ook nie vergeet van die kinders nie en daar sal ‘n lekker groot pretpark wees en Lollos verras weer die Sondagoggend met een van hulle treffer vertonings.
“Daar sal verskeie interessante aktiwiteite ens nog aangekondig word, maar dis veilig om te sê dat daar iets vir almal sal wees om te doen, met die fokus natuurlik op die buitelewe uitstallings.”
Kaartjies sal binnekort beskikbaar wees by Computicket en ook by die hekke gedurende die ekspo. Besoek gerus ons webwerf by www.ekspo.co.za en alle uitstallers navrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.

Oupa se belofte aan Dewald bring hoop

Leonie, Dewald, Wynand en Ferdi Vermeulen (agter) hoop op ‘n nuwe toekoms vir Dewald deur middel van stamselbehandeling.

Ek het hom belowe dat ek nie my laaste asem sal uitblaas, voor ek nie alles probeer het om vir hom ‘n beter lewe te gee nie.
So sê Wynand Vermeulen, oupa van Dewald Vermeulen van Malmesbury.
Dewald is as outisties gediagnoseer, maar ly ook aan serebrale paulsie en het tot onlangs epileptiese-episodes ervaar.
Die Vermeulen-huishouding is ‘n gelukkige en opgewekte een.
Dewald, wat bedags deur ouma Leonie en oupa Wynand versorg word, se persoonlikheid vul die hele huis.
Ek hoor hom skaterlag vanaf die voordeur.
Dewald (13) is ‘n lang, blondekop seun, met yslike hande en voete en ‘n vriendelike glimlag.
“Hy is so ‘n ligstraaltjie. Hy is ons hele lewe,” vertel Leonie.
Dewald is in 2008 op Malmesbury gebore.
As baba het die nie geblyk dat iets met hom skort nie, maar toe hy nie sy mylpale haal nie, het daar gevaarliggies vir sy ouers en grootouers afgegaan.
Dewald het nog nooit geloop nie, ook nie gekruip nie, en tot vandag het hy nog nie gepraat nie.
Hy kom oor die weg deur van sy sterk arms gebruik te maak om te skuifel vanaf een punt in die huis na die volgende, sy bene gekruis onder hom.
Maar met daardie arms is hy blitsvinnig uit die vertrek as hy vir pa Ferdi wink dat dit tyd is om te gaan bad.
Die Vermeulens het reeds by talle pediaters en spesialiste aangeklop vir raad en hulp, maar met min antwoorde teruggekeer huis toe.
‘n Mediese verslag dui dat toetse en breinskanderings nie kan bepaal wat fout is nie.
Dewald slaap saans op ‘n groot en gemaklike matras voor die televisie en onder die lugversorger – hy kan moontlik van ‘n bed afrol en homself beseer. Ouma Leonie slaap agter sy blad, met Oupa Wynand wat ‘n matras nader sleep, net om “by my vrou te kan slaap”.
Hulle hou Dewald met ‘n valkoog dop en versorg hom met groot liefde en deernis, terwyl die ander familielede skoolgaan of gaan werk om die Vermeulens se besigheid in die Paarl te laat floreer.
“Ek wil net graag vir ‘n naweek my vrou see toe neem, maar ons kan nie sonder Dewald nie. Hy is ons nommer een prioriteit.”
Dewald het onlangs epileptiese aanvalle ervaar, maar met medikasie is dit onder beheer.
Sy gunsteling TV-program is – nuus vanuit Afrika en die grapjas Mr Bean van Rowan Atkinson. Soms jaag hy sy oupa rond en knyp hom as hy met hom speel.
“Ja, kyk net hier. Hier het die outjie my beetgekry,” lag Wynand.
Dewald het tot ‘n paar jaar gelede niemand direk in die oë gekyk nie.
“Ek het eendag met hom gespeel, sy handjies in myne gesit en hom gevra om na my te kyk. Hy het sy kop opgelig en my stip aangestaar. Van toe af kyk hy vir jou direk en vol in die oë,” vertel Leonie.
Dewald is nog afhanklik van doeke, wat saam met mediese onkostes, ‘n groot finansiële druk op sy familie plaas.
Daar is egter ‘n ligpunt van hoop – stamselbehandeling.
Die Vermeulens het deur ‘n familielid van ‘n dokter te hore gekom wat stamselbehandeling doen en dadelik met die dokter kontak gemaak.
Vir hierdie behandeling benodig die familie sowat R120 000, wat opvolgbesoeke insluit, maar hulle is bereid om enigiets en alles te doen om hierdie behandeling vir Dewald te kan gee.
“Daar is hoop en ek het hom ‘n belofte gemaak en ek sal daarby hou. Ek sal nie gaan rus voor ek nie alles in my mag probeer het om sy lewe gemakliker te maak nie,” vertel oupa Wy-nand sag.
Die familie het onlangs ‘n fonsinsamelingsprojek van stapel gestuur om die geld in te samel, sodat Dewald so spoedig moontlik die behandeling kan ontvang.
“Alles wat ekstra in daardie fonds is, sal ek net so aan ‘n ander kind gee wat dit nodig het, want dit is nie ons sin nie. As ons weer iemand anders op so ‘n manier kan help, dan doen ons dit. Ek wil net vir Dewald help.”
Dewald se ouer broer, Keaton, wat wel ‘n kop korter is as hy, help vinnig om Dewald te skuif vanaf die rusbank na die matras.
Dewald het gaan lê na sy bad, sy arm uitgehou, sodat ouboet in sy arm kan kom lê en rus. Toe hy warm kry, moet Keaton vort en hy word sommer weggestoot met groot liefde.
Dewald kraai van die lag toe die gesin se skoothondjie besluit dit is nou tyd om op die sitkamerstel rond te spring.
“Daar moenie vir my gesê word hy verstaan nie, of hy kan nie deelneem aan dit wat rondom hom aangaan nie. Ek het hom al by die yskas gekry, waar hy besig is om melk uit die houer te drink. As hy my gewaar, kyk hy my stip in die oë en keer sommer die melkbottel om en lag. Hy kan lekker aspris wees as hy die dag lus het.”
Om na Dewald om te sien, is ‘n voldag-taak, maar die Vermeulens doen dit met groot liefde en deernis, terwyl hulle hul hoop plaas in die moontlikheid van verbetering met die stamselbehandeling.

  • Indien jy ‘n bydrae wil lewer, of navrae het, kontak Ferdi Vermeulen by 079 465 4741.
    Die bankbesonderhede is soos volg:
    FNB, Dewald Vermeulen, 62925118722 (rekeningnommer), 250057 (takkode).

Yzerfontein Projek

Gesonde happies vir skool

So, die kinders is terug by die skool en die laaste ding waaroor jy wil bekommer tien minute voor jy moet skool en werk toe ry, is wat in daardie kosblik kom wat jou en jou kind vir die dag versadig moet hou. Dis moeilik om bekostigbare en gesonde kosblikke voor te berei wanneer jy haastig is, maar tog wil jy die voorspelbare toebroodjies
vermy. Kinders is baie besig by die skool met leer en rondhardloop en daarom benodig hulle baie energie vir al die kaskenades.

Hier volg ʼn aantal idees vir voedsame peuselhappies en middagetes vir die kosblik.
Peuselhappies is gewild onder kinders en sommige volwassenes verkies dit bo groot etes.
Dit is belangrik om ʼn verskeidenheid kosse in te pak wat volgraanhappies, vrugte en groente en proteïene insluit.

Die beste aspek van hierdie gesonde kosblik-idee is dat jou kind van al vyf voedselgroepe op ʼn dag sal eet sonder om dit eers te besef!

Hierdie uit-die-boks-idees kan in jou of jou kind se kosblik kom. Meng die verskillende soorte om ʼn kleurvolle en smaakvolle kosblik voor te berei:

Proteïene
Ham-en-roomkaasrolletjies
Maklik om te maak by die huis en ‘n goeie bron van proteïene. Jy kan dit oor die naweek maak en regdeur die week gebruik.
Neute
Tuisgemaakte hoendersosaties
Vesel

Blomkool is ryk aan vitamines en minerale en ʼn baie goeie plaasvervanger vir aartappels.
Gebruik dit in plaas van pasta in die gewone macaroni-en-kaasgereg vir ʼn ander smaak en meer voedingwaarde.

Provitas
Sny patats in skywe, strooi bietjie olie en speserye oor en sit dit in die oond. Draai dit gedurig om tot die skyfies goudbruin en krakerig is.

Vrugte

Appelskywe met grondboontjiebotter swoel

Bloubessies is ʼn bederf vir kinders as hulle gewoond is aan net die gewone vrugte Droë mango
Groente
Brokkoli
Komkommerskyfies
Klein worteltjies
Jy kan donkersjokoladeblokkies vir ʼn bederfie
inpak.

Middagetes
Koskarossies (“wraps”) met ʼn vulsel. Gebruik die oorskietvleis of hoender van die vorige aand.
Muffins wat warm of koud geniet kan word. Klein souttertjies. Jy kan enige vulsel van kaas en sampioene tot brokkoli in die tertjie sit. Klein pizzas.

Meng rou brokkoli, spek, ertjies, uie en kaas met mayonnaise-en-kondensmelksous die aand voor jy gaan slaap vir ʼn bederf van ʼn slaai vir middagete. Aspersie-en-spekrolletjies.

Klik hier vir resep
Indien jy tyd oor die naweek het, kan jy hierdie heerlike jogurt-en-vrugtekoekies maak vir die volgende week. Dit kan selfs gevries word.

Bron: https://jougesin.solidariteit.co.za/gesonde-en-bekostigbare-kosblik-idees-vir-oueren-kind/

Vallei spog met eie radiostasie

Jonathan Genis en Charles St. Clair Bolam is die meesterbrein agter Riebeek Valley Radio. Hulle is ook eienaars van 339South, ‘n produksiemaatskappy. Bo is Jonathan Genis (mede-eienaar en gasaabieder) en Tebra du Plessis en Pierre Marais (aanbieders van die Donderdag-program). Regs is Sunette Burnett, Protea-ruiter wat ‘n gas op die program was. Onder: Taryn Lee Snyders (gasaanbieder) en Azurdee Castello (aanbieder van die Saterdag-program, Valley Vibes).

Die Riebeekvallei spog met ‘n splinternuwe radiostasie, Riebeek Valley Radio.
Jonathan Genis, die mede-eienaar van 339 South – produksiemaatskappy, het reeds jare ondervinding in die media en het op sy tyd vir 30 jaar vir die SAUK gewerk.
Hy het by ‘n radiostasie in Seepunt begin en het ‘n ruk later die skuif na televisie gemaak.
Hy en sy vrou het ses maande gelede na die vallei verhuis en het onmiddellik op die vallei en sy mense verlief geraak. Hy is sedert Februarie 2021 betrokke by KaapstadRadio, waar hy die radiostasie op die webtuiste behartig, en het die idee gehad om hierdie platvorm ook in die vallei te vestig.
Hy het by KaapstadRadio gaan aanklop met die idee van ‘n gemeenskapsradiostasie vir die vallei en is nou ‘n satellietstasie vir hulle.
“Ons sal baie graag in die toekoms ‘n volwaardige stasie wil word. Die voordeel om nou nder die vlerk van KaapstadRadio te kan ontwikkel en groei, is dat ons nou teeen ons eie pas kan groei en ook so kostes laag hou. KaapstadRadio het sowat 300 000 aanlyn-luisteraars, so dit verskaf ‘n lekker sterk platvorm aan ons,” vertel Jonathan.
Hy en Charles St. Clair Bolam, sy vennoot in 339South Productions, dryf die stasie.
Charles woon in die Paarl en is ook die stasiebestuurder, met KaaptadRadio as die stasie se vennoot in die eerste jaar.
Die duo streef daarna om Riebeek Valley Radio in ‘n volwaardige gemeenskapsradiostasie te ontwikkel.
“Een wat finansieel op sy eie voete kan staan. ‘n Stasie deur sy mense, aan sy mense.”
Hulle het met die plaaslike toerismekantoor saamgespan en saai ook weekliks vanuit die toerismekantoor uit.
“Hulle het goedgunstig ‘n vertrek aan ons beskikbaargestel. Ann Heyns en Sean Cleary le Grange, ondersteun ons baie in hierdie projek, want ons is ook ‘n platvorm vir die plaaslike toerismebedryf,” vertel Jonathan.
Omdat hulle die totale gemeenskap wil betrek by die stasie, het hulle ook begin uitreik na die jeug om hulle oor te haal om as omroepers aan te sluit.
“Ons wil regtig die hele gemeenskap betrek. Ons wil ook ons luisteraars vermaak met nuus en kuns uit die vallei, maar ook kwessies wat die gemeenskap na aan die hart lê,” vertel hy.
Vir Jonathan het radio talle lekkertes.
“Volgens my bring dit mense meer by mekaar as televisie. Jy sit om ‘n tafel en gesels soos ou vriende. Jy maak weekliks nuwe vriende. Hierdie is ‘n vallei waar daar baie wynmakers is, so ons het ‘n gebruik begin waar iemand elke week ‘n paar bottels wyn vanuit die vallei saambring, dan sit en gesels ons lekker om die mikrofone met ‘n glas van die beste wyn in die vallei.”
Die lewe in by ‘n radiostasie, hou ook talle skaterlagoomblikke in.
“Ons het verlede Donderdag ‘n onderhoud opgeneem, met ‘n kriek wat êrens in ‘n kas was, en hy het ook besluit om sy mening te gee. Ek moes so stil moontlik probeer uitvind waar die ongenooide gas homself bevind en moes mooi vra of hy nie lewers buite wou gaan saamgesels nie!”
Riebeek Vallei Rendezvous is elke Donderdag vanaf 15:00 tot 18:00 op die lug en ook elke Saterdag kan jy na Valley Vibes tussen 12:30 en 14:30 luister.
Die Saterdagprogram word aangebied deur ‘n Amerikaner van Kentucky, wat met ‘n Afrikaanse boer getroud is. Hulle woon meer as 18 jaar in die vallei – Azurdee Castello.
Sy is ‘n kunstenaar met ‘n Youtube-kanaal “Azurdee & The Blue River Band”.
Skakel in op KaapstadRadio.com om na RiebeekValleyRadio te luister.

Betrekkings

Sewes skop af

Sewestoernooi: Die afgelope naweek is groot rugby-aksie ten toon gestel in vanjaar se Gammat 7’s, aangebied deur Never Despair. Die span Big Boys, het as oorwinnaars uit die stryd getree. Foto’s: David Howburgh